‘n Adjudant-offisier van die Paarl-polisie word deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek nadat hy na bewering ‘n man in die polisieselle by die Paarlse landdroshof aangerand het.
Die voorval het glo op 20 Oktober 2025 in die oggend plaasgevind voordat die man (‘n verdagte) die eerste keer in die hof sou verskyn het.
Volgens die man, wat anoniem wil bly om sy en sy kinders se veiligheid te beskerm, ken hy en die polisiebeampte mekaar en spruit die beweerde aanranding uit ‘n onderonsie by ‘n plaaslike winkelsentrum op 18 Oktober.
Die man beweer dat sy vrou (van wie hy nou skei) en die polisiebeampte in ‘n buite-egtelike verhouding was, waarna hy hulle by die betrokke winkelsentrum in die middedorp daaroor gaan konfronteer het.
Met die man se aankoms het hy glo teen sy vrou se voertuig vasgery omdat hy kwaad was, waarna hy ongeveer ‘n uur en ‘n half later deur die polisie by sy woning aangekeer is nadat ‘n saak van gesinsgeweld teen hom geopen is.
Hy is die volgende Maandagoggend na die landdroshof vir sy eerste hofverskyning geneem, waarna die adjudant-offisier in die teenwoordigheid van drie ander mans in die aanhoudingselle hom glo in die gesig gespoeg, met sy knie getref en lelike woorde toegesnou het.
Hierdie drie mans, wat as ooggetuies dien, wil volgens die bron nie verklarings aan die Opod oor die voorval aflê nie.
Die man is daarna vir ‘n week in die Allandale-gevangenis aangehou, waarna die staat die saak teen hom teruggetrek het en hy vrygelaat is.
Volgens kapt. F.C van Wyk, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is ‘n saak van algemene aanranding en crimen injuria teen die polisiebeampte aangemeld en wat Opod ondersoek.
Die provinsiale polisie het by navraag niks gesê oor die saak wat teen die man aangemeld is nie.
Volgens Phaladi Shuping, ‘n woordvoerder van die Opod, ondersoek die direktoraat steeds ‘n klagte van algemene aanranding. Shuping het nie melding gemaak van die crimen-injuria-saak nie.





