Geagte Raadslid Peter de Villiers,

Ek glo mediaberigte was waar oor die feit dat die Drakenstein-munisipaliteit kapsie gemaak het by Eskom en Nersa, wat die 18,65%-verhoging goedgekeur het. Dus is dit nie vergesog dat u dit ook moes weet nie, asook dat hoë elektrisiteitstariewe en die onomkeerbare invoer daarvan onder die ANC-beheerde munisipaliteit plaasgevind het.

U weet die Drakenstein is die tweede grootste munisipaliteit in die Wes-Kaap met seker die meeste onwettige kragkoppelings ook? Sekerlik is u ook vertroud met die feit dat slegs sowat 41% van inwoners eiendomsbelasting en vir water en dienste betaal, waarvan die som die bedryfskoste van die munisipaliteit moet dek asook ekstra toegewings vir die armes moet maak. Die inkomste is ook vir die salarisse van raadslede, van wie baie nie hul kant bring nie en baie ook geen kundigheid het vir die werk waarvoor hulle daar is nie.

Die stelsel van politieke partye wat kiesers in die raad verteenwoordig, is sieklik. Dit is in 1978 ingestel en het sedert 1994 momentum gekry. Dit is die rede vir die ondergang van 90% van munisipaliteite, veroorsaak deur korrupsie en onkunde sonder enige gevoel vir die lyding van die stemvee. Almal is ego-gedrewe en magsbehep. Pleks dat hulle in wysheid saamwerk en verskil, speel hulle gedurig óf die ras- óf die politieke kaart, of pass the buck of speel die blame game.

’n Klomp van die poorer residents leef lekker op die somtotaal van die grants – waarvoor 60% van die fiskus jaarliks gebruik en verkry word deur minder as 50% belastingpligtiges. Feitelike korrekte navorsing om dit te staaf, is verkrygbaar. Sommige gesinne kry tot R38 000 per maand deur die slim/slinkse wyse waarop gewoonlik ’n HOP-huis verhuur/onderverhuur en “hokke” op een erf opgesit en verhuur word. Dis baie meer as wat pensioentrekkers uit die opbrengs van hul lewensvlyt kry.

Die GOOD-party kan sy naam eer aandoen deur onbaatsugtig en ongekend op te tree en die lot van sy gemeenskappe te probeer verlig. Dit sal goed wees. U kan hier die eerste wees.

Ons Vallei was en is steeds op die voorpunt met baie goeie goed. Afrikaans is een daarvan. Daarom my antwoord in my taal.


HDK,

Paarl-Oos

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article