In die lig van die onlangse vertrek van ons uitvoerende burgemeester voel ons genoodsaak om ’n paar waarnemings met die leiers van die Stad Drakenstein te deel sodat dit moontlik as riglyne vir die komende verkiesing van sy opvolger kan dien.

Ons is van mening sekere kwessies wat gedurende sy termyn agterweë geraak het, kan dalk nou opgelos word indien die verkiesing op ’n grondslag van verdienste, ondervinding en kwalifikasies kan geskied.

In die belang van goeie bestuurspraktyke voorsien ons die volgende kernvereistes vir die verkiesing van ’n burgemeester:

Die betrokke kandidaat moet goed onderleg wees in finansiële praktyke in ’n munisipale omgewing om finansiële verantwoordbaarheid te kan neem, polities onbesmet wees, ’n kritiese denker wees wat toeganklik en openlik is, iemand wat sosiaal verantwoordelik kan optree, ’n spanspeler met integriteit en gravitas is, emosioneel volwasse en deeglik onderleg is in die beginsel van deelnemende regering waar burgerlike groeperings insette kan lewer in die bestuur van ons omgewing, soos die wêreldwye burgerlike tendense tans voorskryf, ’n leier wat voortdurend die morele hoëgrond kan handhaaf, polities verantwoordelik kan optree en nie bang sal wees om ongewilde besluite te neem wat alle inwoners tot voordeel kan strek nie, die belange van die hele gemeenskap in ag sal neem in sy besluite wat die vreedsame en veilige bestaan van mense kan bedreig, asook om die behoeftes van alle belangegroepe ongeag van hul ras, gender, politiese ideologieë, godsdiens en politieke affiliasie in ag te neem – alles in die uitvoering van sy of haar plig teenoor die gemeenskap.

Só iemand behoort die vryemarkstelsel te verstaan en te kan bevorder, wat sal verseker dat die nodige werkskepping kan plaasvind en voornemende beleggers na ons stad gelok sal word.

Hy of sy moet ook bereid wees om ’n vriendelike werksomgewing binne en buite die munisipaliteit te skep.

Interne kandidate met ondervinding en wat goed geposisioneer is om aan hierdie vereistes te voldoen, moet ook in ag geneem word.

Ons het diesulkes reeds geïdentifiseer.

Die sakekamer en die belastingbetalersvereniging is dit eens oor die vereistes hierbo uitgestippel en versoek ons besluitnemers om in die beoordelingsproses ernstige oorweging hieraan te skenk.


Dirk Breytenbach, Johan Rademeyer en David Frost,

Drakenstein-Sakekamer en -Belastingbetalersvereniging

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article