Gewapende konflik woed tans oral, en die wêreld, met spesifieke fokus op Suid-Afrika, kry swaar onder die vaandel van geweld.
Oekraïne veg steeds ná meer as ’n jaar vir sy vryheid in die oorlog teen Rusland, terwyl verskeie lande in die Midde-Ooste, soos Irak en Sirië, deur burgeroorloë in die gesig gestaar word.
Die meeste lande in Noord-Afrika, baie naby aan Suid-Afrika se drumpel, is ook in terroriste-opstande vasgevang, en dit sluit ook die noorde van Mosambiek in, waar Isis die land in ’n staatsgreep wil oorneem.
Die wêreld is letterlik aan die brand. Wêreldburgers, insluitend Suid-Afrikaners, kry swaar. Gemoedere is laag. Die ekonomie ervaar ’n insinking in verskeie lande, en mense se spaargeld is al in die rooi.
Die Amerikaanse rolprente wat oorloë as heldhaftig skets, draai ons ’n rat voor die oë, want om oorlog te maak, is alles behalwe dapper – dis eerder selfsugtig.
Dit is nie meer “cool” om die groot gewere te sien waarmee die “army-manne” in dié rolprente pronk nie, of die toneel waarin die soldaat sy of haar liefde ná hul terugkeer by die huis met passie vaspen en soen nie.
Dié tonele is fiksie, en die werklikheid is ’n baie bitter pil om te sluk.
Op laerskool wou die meeste van die seuntjies brawe soldate word “wanneer hulle groot is” sonder om te weet wat hierdie wens eintlik beteken.
Tienermeisies het daarvan gedroom om ’n spiertier, soos dié wat in die Amerikaanse oorlogrolprente uitgebeeld word, te soen, en vir ewig gelukkig saam te leef.
Die werklikheid is immers glad nie so kleurvol en verbeeldingryk nie.
My pa het soos baie ander mans in die Angola-oorlog geveg, maar glad nie met verwondering daaroor gepraat nie.
Volgens hom was dit ’n sinlose geveg wat baie landsburgers laat swaar trek het.
So is die oorloë, wat op die oomblik woed, ook sinloos.
Die verskillende lande en terroriste-groepe glo vas dat hul geveg geloofwaardig is en die wêreld ’n beter plek sal maak, maar eintlik gebeur die teenoorgestelde.
Suid-Afrika ervaar tans ’n stewige verhoging in brandstofpryse, wat direk gekoppel is aan die oorloë in die Midde-Ooste. Kospryse – en spesifiek dié van graanprodukte – het ook sedert die oorlog in Oekraïne stewige stygings beleef omdat uitvoer na dié land weens die konflik bemoeilik is.
Eerder as om te spaar en annuïteite of beleggings uit te neem, leef die gemiddelde Suid-Afrikaner op of onder die broodlyn en van die hand na die mond.
Hulle het net nie geld oor nadat die sente twee keer omgedraai is om dit in ’n spaarvarkie te druk en vir ’n noodgeval te hou nie.
Ernest Hemingway, ’n Amerikaanse skrywer, het in die jare veertig gesê: “Moet nooit dink dat oorlog – maak nie saak hoe nodig of hoe geregverdig nie – nie ’n misdaad is nie.”
Hiérdie aanhaling vat die kern van oorloë mooi saam deur te verduidelik dat dit nooit regverdig is óf geregverdig kan word nie.
Volgens Hemingway is dit ’n misdaad, en wanneer ’n mens na historiese voorbeelde kyk, soos die oorlog in Viëtnam van 1955-1975, die Rwandese volksmoord in 1994, of die Engelse en Zulu-oorlog in 1879, asook die twee Suid-Afrikaanse oorloë waarin die Afrikaners rondom die 1900’s teen die Engelse geveg het, het vele menseregteskendings voorgekom, waar kinders vermoor is, vroue verkrag is en soldate mekaar wreedaardig vermoor het.
Al hierdie voorbeelde is dus misdade. Dit is nie heldedade wat geprys en as positief in rolprente uitgebeeld moet word nie.
Oorloë maak nie net die wêreld ’n wreder plek weens die geweld nie, maar skep ook ekonomiese uitdagings, en spesifiek emosionele letsels wat generasies lank neem om te genees.





