Stilweg het ’n sagte spaan spore op die water gelaat het ’n moedige spaan die weg gebaan ’n dapper spaan ’n bres geslaan ’n trotse spaan alleen bly staan stilweg het ’n sagte spaan heengegaan tog bly vir altyd die spore op die water – sy spore.
Só lui die woorde van die mederoeier en vriend van Giel van Deventer, Danie Brink, as een van die talle eerbetuigings wat vandeesweek steeds ingestroom het ná die verdrinking van dié geliefde en legendariese Paarlse kanovaarder wat naby Swellendam dood is.
Van Deventer het aan voorafwedvaarte deelgeneem as voorbereiding vir die Breërivier-kanomarathon, wat in September plaasvind, toe die noodlot tref.
Dit is ook toevallig 50 jaar gelede dat Van Deventer en sy goeie vriend asook gesoute kanojaer, JT Basson, saam in hul K2-kano die Breërivier-kanomarathon gewen het. Van Deventer en sy spanmaat, Lood Rabie, se K2-kano het op 20 Augustus ’n boomstomp in die rivier tussen Drew Bridge en Swellendam getref.
Rabie kon veiligheid bereik, maar Van Deventer het onder die water verdwyn. Sy liggaam is ná ’n twee dae lange soektog naby die plek waar hulle die boomstomp getref het, gevind.
Van Deventer sal veral onthou word as legendariese roeier en deeglike statistikus van die sport. Hy hou die rekord vir die meeste Bergrivier-kanomarathontitels – 51 – maar was in die algemeen ’n gesoute sportman en het ook aan 19 Argus-fietstoere, 24 Orange Descent-kanomarathons, 25 Visrivier-kanomarathons en 38 Breërivier-kanomarathons deelgeneem. In ’n vroeëre onderhoud met Paarl Post het Van Deventer, wat in Swellendam grootgeword het, vertel toe die eerste Bergrivier-kanomarathon in 1952 plaasgevind het, het hy as 12-jarige op die Breërivier in Swellendam begin roei met die droom om eendag aan die Bergrivier-kanomarathon deel te neem.
Hy het in 1969 aan sy eerste Bergrivier-kanomarathon deelgeneem. Van Deventer sal egter vir baie meer as net roei onthou word.
Hy was ook ’n bekende Protea-boer, sekretaris van die Bergrivier-besproeiingsraad en ’n passievolle omgewingskundige. Op sy plaas Floralea, teen die hange van Paarlberg, het hy indringerbome die stryd aangesê en hom goed van die taak gekwyt en sy 160-hektaar-plaas basies skoongemaak van indringerplante en die fynbos hier hervestig. Hy was passievol oor die bewaring van die Bolandse berge en het saam met Cape Nature gewerk om oplossings vir probleme in die berg te vind.
Hy was ook deur die jare by die Bergrivier-besproeiingsraad betrokke en hier het hy ’n belangrike rol op verskeie platforms gespeel. Billy Bourbon-Leftley, voorsitter van die raad, het gesê Van Deventer het die rivier vanweë sy liefde vir roei baie goed geken. Hy het in sy rol by die raad geweet waar elk boer se besproeiingspompe langs die rivier is en het hiermee raad gegee. Veral in die tye van droogte ’n paar jaar gelede, toe boere se waterverbruik uit die Bergrivier erg beperk was, het Van Deventer pal die situasie gemonitor en as raadgewer hieroor opgetree.
Hy was ook druk betrokke by die skoonmaak van die rivieroewers van indringerplante en blokkasies wat die natuurlike vloei van die rivier belemmer het.
Van Deventer het as jongman na die Paarl verhuis. Hoewel hy ’n landbouagtergrond gehad het, het hy eers hier ’n fietswinkel oopgemaak, en later ’n graniet-gedenkplaat-onderneming onder in Lady Greystraat.
Hy en sy vriend JT, wat in Klein Drakenstein boer, het begin om proteas op Wildepaardejacht-plaas te plant. Nadat ’n bergbrand hul plantasies verwoes het, het Van Deventer die plaas Floralea aan die hange van Dutoitskloof gekoop, waar hy ’n baie suksesvolle protea- en fynbos-plaas op die been gebring het.
Maar Van Deventer was eerstens ’n gesinsman en word deur sy dogter, Karike Conradie, onthou: “Ons as familie gaan hom baie mis as ’n pa en oupa wat bel en vra wanneer kom ons kuier; hy mis ons (al weer!) en ‘bring die kaarte saam’. Ek en Abe gaan hom baie mis as ’n entrepeneurs- en sakementor en het veral in die afgelope maand baie spesiale tye saam beleef.
”Van Deventer sou môre (2 September) sy 73ste verjaardag vier.
’n Kranslegging vind vandag (1 September) om 17:30 by die Paarl-kanoklub plaas tesame met ’n wedvaart ter nagedagtenis aan Van Deventer. Die begrafnisdiens word vir 18 September beplan en Karike kan hieroor gekontak word deur diegene wat dit wil bywoon, na die regstreekse uitsending wil kyk of mooi herinneringe oor Van Deventer wil skryf vir ’n bundel wat die familie saamstel. Sy kan by karike@kikka.co.za gekontak word.
- The communtiy of Paarl is still mourning after the tragic drowning death of legendary canoeist Giel van Deventer.





