’n Oomblik van stilte is voor die eindwedstryd tussen Wellington-rugbyklub en die Young Blues gehou ter ere van die klub se geliefde oom Dolf Stemmet, wat oorlede is.Foto: Heleen Rossouw


Wellington-rugbyklub het Saterdag afskeid geneem van sy grootste legendariese speler nog, oom Dolf Stemmet, wat op 25 Junie – enkele dae ná sy 80ste verjaarsdag – dood is.

Oom Dolf, soos almal hom geken het, was sedert 1961 tot sy dood betrokke by die klub as speler, bestuurslid en jare lange voorsitter – ’n tydperk van 61 jaar.

Oom Dolf het self ingespring as dit nodig was om gebreke by die klub te herstel. Hy was soms vlagman, kroegman, loodgieter, elektrisiën en algemene handy man.

Hy het ook saamtrekke gereël om geld in te samel en dikwels self borge en spelers gewerf as dit nodig was.

Oom Dolf het die moeite gedoen om die wedstryde van al die spanne by te woon en ook saans by die oefeninge kom gesig wys.

Hierdie betrokkenheid by die spelers het van hom ’n pa-figuur en ’n mentor vir baie spelers gemaak. Een van sy gunstelingopmerkings aan spelers was: “You can’t keep a good man down!”

Die Wellington-rugbyklub se spelers was oom Dolf se seuns, want hy het vier dogters. Die seuns het hom gerespekteer, soms vir hom kwaad geraak as hy hulle teregwys, maar was baie lief vir hom.

Oom Dolf kon Wellington-rugbyklub se geskiedenis met dag, datum en name aanhaal. Hy was trots om deel te wees van die Wellington-rugbyklub en het ook ’n passie vir Boland-rugby gehad.

Hy het diep spore in baie mense se harte getrap. Hy was ’n geliefde en bekende in die gemeenskap en sy familie, vriende en lede van die Wellington-rugbyklub sal hom baie mis.

Totsiens, oom Dolf, jou lojaliteit sal ongeëwenaard bly.

  • Oom Dolf se gedenkdiens word op 15 Julie om 11:00 in die Wellington-Noord NG kerk gehou, waarna verversings by die Wellington-rugbyklub voorsien sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article