Ek verwys na die brief van Johan Rademeyer (Paarl Post, 18 Januarie 2024) waarin hy op Saartjie se betoog reageer.
Hy deel mee dat dit hom ontstel as “wilde (ongegronde) stellings gemaak word oor dinge soos die vasstelling van die urban edge (hierna dorpsrand) en alles wat daarmee saamhang”. Hy vra dat enige bedenkinge oor die vasstelling van dorpsrande in die Paarl in die openbaar bespreek word. Ek vertrou dit geld ook vir Wellington.
Mnr. Rademeyer sal onthou dat die besluit om die dorpsrand aan die Blouvleikant van Wellington te verskuif tydens die raadsvergadering van Maart 2009 bekragtig is. Die posisionering daarvan is toe as fait accompli en sonder openbare deelname by die Konsep- ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (SDF) van 29 Julie 2010 ingesluit. Die eerste keer wat belanghebbende en belangstellende partye (I&AP’s) kans gekry het om op die dorpsrand van 2009 kommentaar te lewer, was dus in 2010. Aansoeke om die dorpsrand te verskuif, is slegs deur Drakenstein-munisipaliteit (DM) oorweeg indien deur tegniese verslae gestaaf – verslae wat ontbreek by DM se voorlegging aan die publiek.
Volgens die notule van die raadsvergadering van Maart 2009 is die posisie van die dorpsrand vasgestel met die oog op geleenthede vir ontwikkelaars en ’n uitgebreide belastingbasis vir DM. Dit is nie goed genoeg nie.
Afgesien van die gebrek aan tydige openbare deelname is die posisie van die toepaslike dorpsrand, soos vasgestel, teenstrydig met die aanbevelings van Erfenis Wes-Kaap (HWC) (Erfenisverslag DBAR 4722), asook dié van die departement van omgewing en ontwikkelingsbeplanning (DEADP; brief 18 Augustus 2008).
Daar is studies waarin aanbeveel word dat die Blouvlei en die Bovlei groen bly. ’n Belangrike aanbeveling is dat die Blouvlei as erfenisgebied hanteer word. Die studie van Graham Jacobs, ’n vooraanstaande lid van die HWC, is die een waarmee ek vertroud is.
Die Blouvlei moet bewaar en die dorpsrand nader aan die dorp teruggeskuif word. Maar hoe kry ’n mens dit reg? Skriftelike pogings om DM se voorskrifte vir tegniese verslae te bekom, bly onsuksesvol.
Mnr. Rademeyer sal weet hoe die aansoek om plaasgrond op die Blouvlei te ontwikkel, vorder – ’n aansoek wat waarskynlik aanvaar sal word. Die betrokke erf val nou binne die dorpsrand. As dit te laat is vir die Blouvlei, sal ek tog wil weet hoe ’n tegniese verslag om dorpsrande (terug) te verskuif, daar moet uitsien.
Miskien help dit vir Saartjie.
Mnr. Rademeyer?
Janine Maske
Wellington



