Die departement gesondheid in die Wes-Kaap het sedert Maart vanjaar oftalmologie-dienste toegankliker vir plaaslike inwoners gemaak.
Volgens die departement het inwoners van die Drakenstein en Stellenbosch-gebied die hoogste voorkoms van katarakte. Die departement het reeds sedert 1 Maart op ’n deeltydse basis, oftalmologie-dienste beskikbaar gestel aan klinieke en gemeenskapdagsentrums (daghospitale) in dié gebiede om sodoende die diens nader aan pasiënte te bring.
Vir pasiënte soos Donnevin Linders beteken dit dat hy die geskikte diens gouer en nader aan waar hy woon kry. Dit verminder ook die aantal ritte wat die pasiënt sou moes maak om deur die spesialis gehelp te word.
“Ek kan nou sien. Aan die begin was ek bietjie huiwerig, want daar is mos maar risiko’s as jy ’n operasie laat doen, maar ek is baie bly dat ek dit laat doen het,” sê Linders van Jamestown.
“My regteroog was heeltemal vaal. Ek is in die ambag en kon later nie meer sien nie,” vertel Linders. Hy weet reeds sedert 2010 dat hy ’n katarak op sy regteroog het, maar in 2022 het sy sig in hierdie oog vinnig versleg.”
Hy is na die Don & Pat Bilton-kliniek waar sy oë getoets is, en toe na Stellenbosch-hospitaal vir ’n konsultasie met die oftalmoloog. Later is sy katarak by Paarl-hospitaal verwyder.
Volgens Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die departement, word ’n beperkte pakket van dienste wat oogsorg betref, gelewer op die vlak van klinieke, daghospitale en ’n distrikshospitaal soos Stellenbosch-hospitaal. Dit word volgens Maritz aangevul deur ’n skole-gesondheidsprogram waar ’n oogsorgdiens na leerders gebring word, en is gesondheidswerkers bly dat pasiënte nou nog beter ondersteuning het sedert die deeltydse aanstelling van die oftalmoloog.
“Mense soos Linders kom nou vinniger in aanmerking vir prosedures soos die verwydering van katarakte. Die bykomende ondersteuning van deeltydse oftalmologiedienste het ook daartoe gelei dat ’n toenemende aantal mense geïdentifiseer word wat omvattende oogsorgdienste benodig,” het Maritz gesê.




