Die onwettige jag met honde – veral windhonde – is ’n verskynsel wat al meer die kop uitsteek soos ook verduidelik in ’n onlangse episode van Carte Blanche,wat KwaZulu-Natal besoek het waar die probleem al hoe meer voorkom.
Dié fenomeen vind egter ook in die Drakenstein plaas met ’n groot aantal windhonde wat op 22 Oktober na bewering onwettig gebruik is om wilde diere op ’n plaas buite Wellington te jag.
Die doel van die onwettige jagtery is om voedsel vir die honde se eienaars te bekom deur kleinwild, soos duikers, te vang.
Volgens ’n bron na aan Paarl Post het die 18 windhonde op 22 Oktober vir hul twee eienaars kleinwild gejag op ’n private plaas op die Haaskraalpad. Bolkvest, ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy, het die honde afgevat en in die Wellington-dierebeskermings-vereniging (DBV) se sorg geplaas.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder van die Wellington-polisie, spruit die eienaars van die windhonde uit die Mbekweni-woonbuurt, wat met al 18 honde agterop ’n bakkie na die Haaskraap- en Vas-plaas gereis het op soek na kleinwild, soos duikers.
’n Ruk ná die honde se aankoms by die DBV het ’n onderonsie uitgebreek tussen die werknemers van die DBV en die honde se eienaars.
“Die eienaars wou die honde terughê, maar die Wellington-DBV wou hulle eers hou vir mediese ondersoek,” volgens Barkhuizen.
Volgens Paarl Post se bron het die DBV die honde ondersoek en gevind dat hulle verwaarloos en in ’n slegte toestand is, maar die honde is tog intussen aan hul eienaars teruggegee, het Barkhuizen verduidelik.
Volgens hom word die twee eienaars deur aanklagte van opsetlike beskadiging van eiendom en onregmatige betreding van ’n perseel in die gesig gestaar.
Die Wellington-DBV het op 26 Oktober in ’n Facebook-plasing verduidelik dat honde betrek was met in- en uitwendige parasiete waarvoor hulle nie behandeling ontvang het nie asook “kroniese en onderliggende siektes” gehad het.
Volgens die DBV se Facebook-blad het die onderonsie tussen die DBV en die honde se eienaars daartoe gelei dat private veiligheidsmaatskappye soos Bolkvest en Winelands Tactical Solutions die DBV se perseel moes beskerm.





