Met die styging van inflasie en verswakking van die rand het die prys van verskeie groentesoorte, insluitend tamaties en aartappels, saam met hoendereiers en -vleis weens voëlgriep die hoogte in geskiet.
Gesinne wat reeds voor die reuse- prysstygings gesukkel het om die pot aan die kook te hou, sukkel nou nog méér.
’n Goedkoper manier as om die winkels te trotseer, is om ’n groentetuin in te rig, wat hierdie broodnodige voedselsoorte teen ’n breukdeel van die prys kan produseer.
Volgens ’n artikel wat op 30 Oktober deur Netwerk24 gepubliseer is, het die prys van tamaties van September tot Oktober in een maand met 44,5% gestyg en kos dit tans ’n yslike R29,82.
Buiten die verhoging van dié groentesoort, laat die prys van aartappels verbruikers ook na hul asem snak.
Volgens ’n ander onlangse Netwerk24-berig kos ’n 10-kg-sak aartappels tans R145,31 in vergelyking met September 2022 se prys vir dieselfde grootte vir net R71,96.
Weens die dreigende voëlgriep-virus, wat verskeie hoenderboere in die gesig staar, het ’n aansienlike verhoging én tekort aan veral hoendereiers ontstaan.
’n Boks van 18 groot eiers was R15,20 duurder in Oktober as ’n maand tevore, luidens die artikel.
Volgens Bradwill Pietersen van Rawel Kwekery in die Paarl het dié kwekery in die afgelope paar weke ’n skerp styging in tamatiesaailing-verkope ervaar.
Volgens hom kan ’n gesin van drie tot vier genoeg tamaties uit ses tamatieplante vir een maand oes, waarna dit dan weer van voor af sal moet produseer.
“Elkeen [elke tamatieplant] sal so 10 tot 12 tamaties dra,” het Pietersen gesê.
Nog ’n wenk is om tamatiepitte wat as sade kan dien, in die grond te druk as jy nie geld het om saailinge by ’n kwekery te koop nie.
Wat aartappels betref, bieg Pietersen dat hy nog nooit self dié groentesoort geplant het nie, maar dat dit vinnig in los grond – nie kleierige grond nie – sal groei.
Gesinne kan eenvoudig net ’n aartappel, wat reeds wortels begin groei het, by die huis in die grond druk, waarna dit sal vermenigvuldig, maar wanneer die aartappels geoes word, sal die proses weer van voor af moet begin.
Volgens Pietersen kan huishoudings wat nie ’n groot tuin het nie of in ’n woonstel woon, die groente in enige soliede pot of boks plant en in die son laat staan waar dit sal groei.
Klop gerus aan by twee groentetuine waarvan Paarl Post weet – een in Klapmuts, wat deur die Klapmuts Medical Centre gestig is, en die ander by die Hoërskool Noorder-Paarl, wat onder meer kool, blomkool, spinasie en mielies vir die onderskeie gemeenskappe daar kweek.
Nicky Vickery, ’n inwoner van die Paarl en ’n ywerige hoender-ma, besit reeds vir sewe jaar haar eie hoenders wat sy vir hul eiers aanhou.
Volgens haar het hoenders nie baie ruimte nodig nie en is hulle gelukkig in ’n klein hok met genoeg los sand vir rondloop, asook daaglikse vars water.
Vickery het verduidelik dat 10 henne – sonder ’n haan – genoeg sal wees om ’n gesin van drie tot vier op ’n maandelikse basis te voed, waar elke hoender in daardie maand minstens een eier per dag sal lê.
Volgens haar kraai hane reg deur die dag en word dit dus nie in stedelike gebiede toegelaat nie, maar henne wel.
Die hok, wat minstens een vierkante meter per hoender moet bied, kan van afvalmateriaal gebou word – en so ook die broeikaste wat die hoenders sal aanmoedig om eiers te lê.
Volgens Vickery hou hoenders ook daarvan om effens bokant die grond te slaap, byvoorbeeld op ’n verhewe balk, wat ook maklik in die hok aangebring kan word.
Volgens haar kan hierdie stokperdjie op ’n duur of goedkoper wyse plaasvind, en een manier om te verseker dat die minste geld uitgegee word, is om die hoenders vrugte- en groente-afval, soos skille of stronke, uit die kombuis te voer.
Hoenders wat genoeg kalsium inneem, lê meer en groter eiers, en ’n maklike manier om dié inname te verseker, is om die eierdoppe fyn te maal en in hul hok te plaas waarna hulle dit sal eet indien hulle ’n tekort het.
Verder moet die hok minstens een keer per week skoongemaak word indien dit nie los sand bevat nie.
Los sand is ’n manier vir hoenders om van hul luise ontslae te raak deur te skrop, maar indien hulle op harde grond leef, sal die luise vermenigvuldig.




