Ons Winkel Wellington het die afgelope week sy vierde verjaarsdag gevier.
Tydens die vieringe het die eienaar van die winkel, Jalinda de Jager, aan elke klant wat die winkel besoek het, die geleentheid gegee om ballonne te prik en sodoende goeie afslag op aankope te kry.
“Ek het al my bestaande klante en skenkers genooi om die winkel op hierdie spesiale dag te kom besoek. Ek is afhanklik van die skenkings wat mense by die winkel kom afgee en ook afhanklik van elke klant wat aankope kom doen,” het De Jager gesê.
Helpende Hand in die Wes-Kaap het tans 30 winkels waarvan die Wellington- winkel een is. Geld wat deur hierdie winkels gegenereer word, word gebruik om rentevrye studielenings vir verdere tersiêre studie aan studente toe te ken.
Ander kleiner projekte met maatskaplike volhoubaarheid word ook met hierdie geld ondersteun.
Die Helpende Hand-verteenwoordigers in Wellington doen ’n beroep op belangstellendes om hulle te ondersteun, hetsy deur maandelikse finansiële bydraes of groter finansiële skenkings.
Hierdie verteenwoordigers bestuur tans ook die Attie Barnard-studiefonds deur middel waarvan toekomstige studente rentevrye studielenings ontvang. Hierdie jaar word slegs een student finansieel ondersteun omdat die fonds verdere finansiële inspuiting benodig.
Die verteenwoordigers is ook betrokke by projekte waardeur hulle jong skoolgaande leerders ná die voltooiing van hul skoolloopbaan met voorbereiding vir hul toetrede tot die volwasse wêreld help. Hulle het ook by die pasafgelope matriekafskeid daarin geslaag om vier leerders se klere, grimering, hare ensovoorts te borg. Hierdeur het elke leerder die geleentheid gekry om hul afskeid op ’n gelyke vlak met ander leerders spesiaal te maak.
Verder fokus Helpende Hand ook op die behoeftes van senior burgers en is opleiding gegee aan twee Helpende Hand-vrywilligers wat oefeninge vir senior burgers gee om hul spiere soepel te hou en hul breinfunksie te versterk.
Hierdie program word gereeld aangebied om sodoende onder meer die gemeensaamheid en gevoel van behoort by hierdie groep in die gemeenskap te bewerkstellig.
“Die eensaamheid onder senior burgers wie se kinders nie naby woon nie, het ’n uitwerking op hul mobiliteit en positiwiteit. Vir baie van hierdie mense is die geleentheid om fisiek iets te doen en dit met ander te deel die enigste manier waarop hulle met ander mense in aanraking kom,” sê Brenda Gagiano, verteenwoordiger van Helpende Hand en ’n agent vir die Seniors in Aksie-program.
Om die volle fokus van Helpende Hand verder uit te brei, is ’n program gedurende die jaar by die Laerskool Hugo Rust deur Francois Boyce van #HoezitSamelewing aangebied, wat met leerders oor respek en identiteit gesels het.
’n Plaaslike skoonheidsterapeut, Leonie Buckle, het met die meisies by die Laerskool Hugenote oor die belangrikheid van persoonlike higiëne, selfversorging en selfbeeld gesels.
Die Helpende Hand-verteenwoordigers doen hul deel om die gemeenskap te ontwikkel deur middel van verskillende programme, projekte en die fokus op volhoubare projekte wat ’n impak op die gemeenskap het.




