Die bobaas-baksters van Woeker-en-Woel hoop om in Augustus hul 50ste verjaardag te vier – as hulle maar net die voortslepende beurtkrag en tariefverhogings kan oorleef. Bo wys die dapper bakkers Elsa Burger, Manda Pretorius, Mariana Louw, Aisha Lashahb en Melodie Scheepers hul handewerk.Foto: Heleen Rossouw


Te midde van ’n kragkrisis wat dreigende kommer vir fase 7- en 8-beurtkrag inhou, het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) Vrydag aangekondig dat ’n tariefverhoging van 18,65% vir die 2023-’24-tariefjaar aan Eskom toegestaan is.

In ’n persverklaring, uitgereik deur Eskom, vra dié kragprodusent weer eens vir die erge omvang van beurtkrag om verskoning.

“Eskom waardeer die moeilike besluit wat deur Nersa [geneem is] en erken die druk wat hierdie vasberadenheid op verbruikers sal plaas. Sodra Nersa ’n besluit neem oor die herstrukturering van tariewe (soos ingedien gedurende Augustus 2020 en 2022), sal hierdie besluite verseker dat Eskom die tariefaanpassings vanaf 1 April 2023 op sy kliënte kan afdwing,” lui die verklaring.

Die besluit deur Nersa om ’n tariefverhoging van ver bo inflasie aan Eskom toe te staan is wyd veroordeel.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gesê dat Nersa se goedkeuring van Eskom se tariefverhoging buitensporig is en van ’n gebrek aan deernis vir die mees kwesbares in die provinsie getuig.

Hy sê hy is vasberade om die provinsie energie-veerkragtig en onafhanklik van Eskom te maak.

“Verbruikers word meer (geld) gevra vir ’n diens wat ons nie kry nie. Hierdie styging is ver bo inflasie en buitensporig. In ’n ekonomie wat reeds kwesbaar is en probeer herbou ná die Covid-19-pandemie, sal dit net verder bydra tot swaarkry vir ons inwoners,” maan Winde.

Op ’n plaaslike vlak het die uitvoerende burgemeester van Drakenstein-munisipaliteit, Conrad Poole, ook sy stem oor dié “verregaande verhoging” dik gemaak.

“As uitvoerende burgemeester is ek sterk teen hierdie tariefverhoging gekant. Byna 60% van ons inwoners in Drakenstein is behoeftig, terwyl verskeie ander sukkel om finansieel kop bo water te hou. Ons kan eenvoudig nie ons inwoners se elektrisiteitsrekeninge verder verhoog nie. Ons reeds swaar geteisterde gemeenskappe sal dit nie kan bekostig nie,” aldus Poole se verklaring.

Uit die kantoor van die Drakenstein-sakekamer se uitvoerende voorsitter, Dirk Breytenbach, word sterk klem gelê dat alle plaaslike bedrywe erg geraak word.

“Onder meer kleinsake, voedselverwerkingsaanlegte, vrugte-pakhuise, slagplase, uitvoermaat­skappye, vervaardigers van toerusting en wetsgehoorsame burgers oor ’n wye spektrum.

“Salarisse kan ook nie tred hou met die onverantwoordelike verhogings nie,” sê Breytenbach.

Ondernemings trek swaar

Brendon Speck, die eienaar van Gecko Lounge in Paarl en Wellington, sê hy sal eerder ’n tariefverhoging van byna 19% betaal as om die swaar finansiële las van beurtkrag te moet dra.

“Ek sal veel eerder 19% meer vir krag betaal as wat ek vir beurtkrag moet betaal.”

Speck is onseker of die nuwe tariewe hoegenaamd die kragkrisis sal verbeter, “maar met dié verhoging kos krag steeds minder as om duisende op diesel uit te gee. Solank die verhoging op betroubare voorsiening van krag geskoei is”.

Hy vertel Paarl Post dat Gecko Lounge altesaam R50 000 per maand aan diesel vir die opwekkers by die Wellington- en Paarl-tak moet bestee.

“Mense dink ons maak geld. Eintlik probeer ons net survive.”

Die geliefde Woeker-en-woel-bakkery in Lady Greystraat, Paarl, hoop om sy 50ste bestaansjaar in Augustus te vier.

“Ons weet net nie of ons dié mylpaal gaan haal nie,” sê die bekommerde voorsitter, Elsa Burger.

Sy glo dat bakkers van enige aard nie met ’n kragopwekker teen die huidige hoë brandstofpryse kan baat vind nie.

“Dan kan jy dit maar netsowel los. Ons winsgrens is net te klein. Die afgelope Saterdag, waartydens die winkel normaalweg tussen 08:00 en 13:00 oop is, was daar drie uit die vyf ure lank beurtkrag.”

Sommige klante toon begrip wanneer hul bestellings soms nie betyds gereed is nie, sê sy, maar dan is daar ander wat ongeduldig raak en met kras taalgebruik teenoor hul baksters uitvaar.

“Ons sal aanhou om ons bes te probeer. Ons hoop en vertrou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article