Die Paarl-belastingbetalersvereniging (PBBV) is teleurgesteld oor die gedrag van die publiek by die Bergrivier die afgelope paar naweke.
Dit het daartoe gelei dat die regte van inwoners van naburige huise in die Bergrivier-boulevard misken en vertrap is. Ons het deernis en simpatie met die inwoners wat tydens die warm weer graag lafenis in die rivier wil kry, maar dit is ons beskeie mening dat die munisipaliteit die rivier-fasiliteit nou behoorlik moet ontwikkel en bestuur. Terwyl die skrif aan die muur was, het al die instansies wat enigsins ’n invloed kon uitoefen eenvoudig in die agtergrond geretireer. Hierdie volstruis- mentaliteit gaan nou sy tol eis.. Die munisipaliteit beplan ’n taxi-parkeerplek pleks daarvan om die massas mense van buurdorpe te beheer.. Die munisipaliteit laat na om sy eie regulasies af te dwing.. Die munisipaliteit skep onvoldoende fasiliteite met die paar toilette wat beskikbaar gemaak is.. Deur die munisipaliteit se versuim is ’n presedent geskep en die vloed-hekke vir wangedrag oopgelaat.
Ons vertrou dat die beloftes gemaak om die probleme aan te pak, uitgevoer sal word. Laastens ook ’n bietjie simpatie met die uitvoerende burgemeester en munisipale bestuurder – mag die wysheid van Salomo met u wees.




