Die dood voel dikwels onwerklik, iets waarvoor baie meen jy jou nie kan voorberei nie, iets wat die mens van wegskram eerder as om daaroor te praat, maar tog is dit ’n werklikheid wat almal raak.

Paarl Post het met die Paarliet Lynelle Kenned gesels oor haar ervaring van ’n geliefde se dood asook haar belangstelling in doodsbegeleiding.

Kenned, ’n bekende operasanger en televisie-aanbieder, het in 2020 ’n kursus in doodsbegeleiding deur die American School of Scientology voltooi.

Sy vertel dat haar belangstelling in dié onderwerp geprikkel is toe sy eendag met ’n doula praat oor die ondersteuning wat ’n doula aan ’n mamma met die koms van ’n baba bied.

“Ek het hardop gewonder of daar ook ‘doods-doulas’ is om iemand in die sterfproses te begelei,” vertel sy.

Kenned het haar ma op ’n jong ouderdom aan die dood afgestaan en sy sê haar ma se dood speel definitief ook ’n rol in haar belangstelling om meer te leer oor die dood en wat daarmee gepaard gaan.

Sy vertel dat hoewel haar ma se kankerdiagnose terminaal was, het haar naasbestaandes steeds gehoop vir ’n wonderwerk en nie die werklikheid in die gesig gestaar nie.

“Met my ma se dood het ek eerlikheid gemis, en ’n veilige ruimte om die moeilike emosies met my ma te kan deel, maar die omstandighede rondom haar sterfte het dit ten sterkste verbied.”

Kursusse oor doodsbegeleiding

Kenned verduidelik daar is verskillende maniere hoe jy betrokke kan wees wanneer iemand sterf en dit kom neer op waar jy jou vaardighede kan toepas of waar jou belangstelling hierin lê.

“Ek was baie meer aangetrokke tot die idee van waak hou. Dit is wanneer jy saam met iemand sit gedurende die proses van aktiewe dood wanneer hulle besig is om te sterf.

“Afhangende van watter dienste die death companion aanbied kan jy vroeër as dit al begin werk met die sterwende persoon en die familie en ’n mens kan nadat die persoon afgesterf het, langer deel wees van daardie proses, met nalatenskap, voorafsorgriglyne, laaste wense om die geliefde te herdenk, en emosionele en beradingsondersteuning deur die proses.”

Kenned het ook vanjaar ’n Hospice-vrywilligerskursus voltooi.

“Ek het besef dat ek nog meer van ’n belangstelling het en ek graag die beradingskursus wil doen vir rouberading en ook graag die tuisversorgingskursus sal wil doen. Nie noodwendig om dit kommersieel te gebruik nie, maar om die vaardighede te hê om dit in my eie lewe met geliefdes, vriende of familie in my naaste omgewing te kan gebruik.”

Kennis nodig oor doodsproses

Sy sê ook dat sy geleidelik haar kennis oor dié onderwerp sal wil uitbrei tot meer bewusmaking en opleiding in die gemeenskap.

“Wat belangrik is, is dat ons meer en meer gesprekke kan begin, dat ons die vrymoedigheid het om oor moeilike, pynlike, ongemaklike dinge te kan gesels en verstaan, dat die proses, ten minste, biologies en ook emosioneel is wanneer ’n mens afskeid neem van iemand asook wat die sterwende persoon deurgaan. Daardie kennis is regtig bemagtigend.

“Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het op hierdie kursus is dat ons as ’n Westerse samelewing baie verder verwyder is van die dood as wat vir ons goed is, wat natuurlik is en wat gesond is. Ons is baie meer in ’n doodsontkenning stadium vasgevang en ek het dit uit my eie ondervinding met my ma se sterfte besef dat ons nie vertroud was met die dood nie, ons was nie voorbereid vir die dood nie.

“Ons het nooit behoorlik gepraat oor hoe ons daaroor voel nie, ons het dit nooit behoorlik begin prosesseer of besef die tyd was kort en daar ’n ander manier was wat ’n mens met meer deernis en werklikheid met die proses kon omgaan nie, so dit was verskriklik traumaties toe sy gesterf het.”

Kenned meen ook deel van die rede waarom die samelewing deesdae verder verwyder van die dood is, is omdat die sterwensproses tesame met die geboorteproses meesal in hospitale en oorde plaasvind. “Mense lewe nie meer noodwendig met die dood saam in die huis nie of sorg nie vir ’n sterwende persoon nie. Dit is verder weg van ons bewustheid af as wat dit voorheen was en dit is ’n onreg wat ons onsself aandoen.”

Sy sê ook dat omdat die mens nie die dood ken nie is daar baie vrees rondom die dood. Kenned meen om meer te weet van die dood en dit wat daarmee gepaard gaan, is eintlik iets wat as ’n basiese lewensvaardigheid aangeleer moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article