As jarelange inwoner van die vallei is ek nou genoodsaak om my mond in die openbaar uit te spoel oor die toestand van ons vallei – nog nooit het ons dorp so misrabel gelyk nie. Daarbenewens heers ’n erge arrogansie by die bestuur van die munisipaliteit as dit kom by kliënteverhoudings met ons belastingbetalers – ons is immers die mense wat hul vet salarisse betaal.

Ek woon in Denneburg en maande nou al meld ek die toestand van ons strate en dies meer daar direk by die munisipale bestuurder aan. Op sy beurt gooi hy die klagtes eenvoudig na ’n ander departement toe, en die hoof hier stuur dit weer op sy beurt uit na talle ander gesiglose e-pos-adresse.

Die uiteinde? Niks – absoluut niks – word aan ons probleme gedoen nie.

Ek het die munisipale bestuurder ook genooi om hier te kom rondloop en met sy eie oë te sien hoe die dorp lyk, maar natuurlik sal hy nie. Ek wonder hoe dikwels loop hy of die burgemeester (of selfs ander wyksraadslede) op straat en sien hoe die plek verval. Ek twyfel of dit ooit gebeur.

Ons hier is wel gelukkig om mev. Solomons as raadslid te hê, wat altyd luister en op die buurt se klagtes antwoord, maar sy is eintlik ook magteloos teen die binnewerkinge van die gryspaleis.

En dan is die munisipaliteit selfs arrogant genoeg om homself ’n “City of Excellence” te noem.

Ek wil graag weet na watter excellence verwys hulle?


Besorgde belastingbetaler,

Denneburg

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article