Die voorbladopskrifte van Die Burger 16/01 en 17/01 lees soos volg:
“Nou’s dit strate toe” en “Knyptang stywer oor kragkrisis”. Wie wil strate toe? Watter knyptang in hierdie land het al ooit enige wesentlike verskil gemaak en die gewenste uitkoms gehad?
Dan in Die Burger 17/01 rig Eskom die waarskuwing dat die kragsituasie “onvoorspelbaar en onstabiel” is – byvoeglike naamwoorde wat nodeloos aan ons gewone mense opgedis word. Ons ervaar beide reeds daagliks, asook die inkonsekwentheid daarvan.
Kyk ’n mens na die skedules van ESP vir die 12-uur-tydpek van 06:00 op 17 Januarie tot 06:00 op 18 Januarie, werk dit so – as gevolg van die selferkende inkonsekwente, onvoorspelbare en onstabiele aard van Eskom, het ek gekyk na fases 4, 5 en 6. Die uitslag hiervan is soos volg:
Fase 4: 12 ure beurtkrag, wat gelyk is aan 50% van die 24-uur-tydperk.
Fase 5: 16 uur beurtkrag wat gelyk is aan 67% van die 24-uur-tydperk.
Fase 6: 18 uur beurtkrag wat gelyk is aan 75% van die 24-uur-tyderk.
Ek betaal tans sowat R678,27 per maand om aan die kragnetwerk gekoppel te wees. Dit voorveronderstel dus 100% deurlopende diens. Bring ons dit dan in berekening met voornememde empiriese syfers, beteken dit ek betaal R678,27 per maand vir:
Fase 4-diens, wat R339,13 se waarde lewer.
Fase 5-diens, wat R223,83 se waarde lewer.
Fase 6-diens, wat R169,57 se waarde lewer.
Ek glo wanneer iemand iets nié aan sy eie bas voel nie, gaan niks wesentlik gebeur nie.
My versugting is dus dat ons strate-toe-gaan los vir mense wat weet hoe om dit te doen, en ons moet die “knyptang” gebruik deur slegs te betaal vir wat ons kry. Soos, wanneer jy ’n turksvy vir R14,00 koop, kry jy die hele turksvy en nie net die helfte, ’n derde of kwart nie.




