Altesaam 19 aanklagte, insluitend verkragting, is teen die voormalige musiekonderwyser van ’n gesogte skool in die Paarl aanhangig gemaak. Hy is verlede jaar in ’n interne ondersoek aan seksuele teistering skuldig bevind, en is in November vanjaar weens verkragting in hegtenis geneem.
Die nuus van die interne ondersoek het in Oktober verlede jaar opslae gemaak toe die onderwyser ná sy skuldigbevinding afgedank is.
’n Jaar later en die einste onderwyser is weer in die nuus nadat hy homself by ’n skool in die Overberg gevestig het nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gesê het die man sal nooit weer as ’n staatsamptenaar of onderwyser aangestel kan word nie, en dat ’n nota by sy profiel gevoeg sal word.
Nadat die nuus van die 44-jarige onderwyser se aanstelling by ’n Overbergse skool bekend geword het, het die WKOD amptenare na die skool gestuur om ondersoek te gaan instel. Hulle het die man gevra om die perseel onmiddellik te verlaat.
Die onderwyser is op 18 November deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem weens verkragting en het sy eerste verskyning in die Paarl-landdroshof gemaak.
Hy het verlede week weer in die hof verskyn, waar die 19 aanklagte bekend gemaak is.
Dit sluit in verkragting, sewe aanklagte van seksuele aanranding, nege van seksuele voorbereiding van ’n kind en twee aanklagte van blootstelling van ’n kind aan kinderpornografie of pornografie.
Die saak is tot 11 Desember uitgestel wanneer die onderwyser aansoek om borgtog sal doen.. A total of 19 charges, including rape, were opened against the former music teacher of a prestigious school in Paarl. He was found guilty of sexual harassment in an internal investigation last year, and was arrested for rape in November this year.



