’n Pragtige bruidspaar – verlief en opgewonde om hul nuwe hoofstuk te begin – se spesiale dag is amper bederf toe ’n pofadder langs die paadjie ’n entjie van die kansel af gewaar is.
Dié tamaai slang, en natuurlik ’n ongenooide gas, het homself lekker gemaklik gemaak, min wetend van die angs wat hy veroorsaak. Die voorval het onlangs by ’n landgoed in Wellington afgespeel.
Die plaaslike slangvanger Eduanne Niemand het hom na die landgoed gehaas nadat hy dringend ontbied is sodat die kollig gou weer op die verliefde paartjie sou kon skyn.
Volgens Niemand was hy vinnig by die landgoed om die slang te vang.
In ’n video wat hy op sy Facebook-blad, Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control, geplaas het, kan ’n mens hoor hoe omstanders nuuskierig vrae stel.
Niemand het die pofadder geïdentifiseer as ’n mannetjie wat sowat 1,1 m lank is.
Niemand is bly hy kon die paartjie se huwelik gelukkig red nog voordat dit begin het.





