FRANSCHHOEK – ‘n Motoris is weens beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem nadat vyf mense Saterdagaand 9 Augustus beseer is toe twee voertuie reg van voor in La Provencestraat in Franschhoek teen mekaar gebots het.
Nooddienste is omstreeks 20:10 na dié botsing in die Groendal-gebied ontbied.
Volgens Kurt Maske, ‘n plaaslike paramedikus wat op die toneel was, was net die twee voertuie in die ongeluk betrokke.
“Daar was vyf beseerdes. Hulle het geringe tot matige beserings opgedoen,” sê Maske.
Lt.kol. Frederick Rossouw, bevelvoerder by die Franschhoek-polisiekantoor, het die ongeluk bevestig.
“Ek kan bevestig dat een persoon op die toneel in hegtenis geneem is vir dronkbestuur.”
Die motoris sal binnekort in die hof verskyn.





