Twee motors het Vrydagoggend (23 Februarie) reg van voor op die R45 (Wemmershoek Pad) naby die Boschenmeer-landgoed in die Paarl gebots.Foto: Verskaf


Twee mense is Vrydagoggend (23 Februarie) naby die Boschenmeer-landgoed in die Paarl dood nadat die voertuie waarin hulle gery het, reg van voor gebots het.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder vir die Paarl-polisie, het die insident bevestig. Sy sê polisielede en nooddienste is omstreeks 09:10 na die toneel op die R45 (Wemmershoekpad) ontbied .

“Daar word beweer dat die bestuurder van ’n silwer VW Polo, weens ’n mediese toestand beheer oor die voertuig verloor het en met die voertuig in ’n gebied gery het waar padwerke aan die gang is. Die voertuig het op die aankomende verkeersbaan ingekom en reg van voor met ’n ander silwer Polo gebots.”

Albei bestuurders van albei voertuie is op die toneel dood verklaar. Die mans is onderskeidelik 32 en 28.

’n 24-jarige passasier wat in een van die voertuie was, is met ernstige beserings na ’n nabye hospitaal gehaas.

Du Plessis bevestig dat ’n saak van strafbare manslag geopen is en speurders ondersoek dit.

Die identiteit van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article