’n Man van Darling is Vrydagmiddag op slag dood in ’n grubotsing op die R45 buite Wellington.

Volgens die ongeluksverslag het die voorval om 14:00 plaasgevind toe die bestuurder van ’n voertuig vanuit rigting Paarl glo ’n hartaanval gekry het en reg van voor teen ’n aankomende motor gebots het.

’n Derde voertuig is ook deur die botsing getref waarna die voertuig gerol het.

Die bestuurder van die motor wat na bewering die botsing reg van voor veroorsaak het, is op die toneel dood en nog drie mense, asook ’n 13-jarige seun, is ernstig beseer.

Die oorledene is Andre Rabe (41) van Darling.

Wellington-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag wat die ongeluk betref.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article