Nog ’n week en nog ’n tragiese branddood in die vallei. En dit ’n jong kind wat haar die soveelste slagoffer die afgelope jaar maak.

Om nie eens te praat van die talle families wat weer dakloos gelaat is nie, sonder hul bietjie wêreldse besittings.

Hierdie is ongelukkig ’n prentjie wat gereeld in die Drakenstein-vallei afspeel – beide in die winter- en somermaande.

Net soos met baie ander noodsaaklike dienste in die land is daar by hulle pal ’n tekort aan personeel en die nodige toerusting.

Gepaard met hierdie uitdagings is daar ook gereeld ander struikelblokke vir die brandweer. Informele wonings veroorsaak dat toegang tot brandkrane versper word. Brandweerbeamptes, nes ambulanspersoneel, word ook tydens noodgevalle deur seker mense binne die gemeenskap aangeval – dit terwyl hulle lewens probeer red.

Sulke gedrag is onaanvaarbaar, maar wanneer die tragedie tref, soos met die jongste geval, word vingers gewys na onvoldoende dienste en dies meer.

In die geval van ons plaaslike nooddienste kan eerlik gesê word hulle doen net hul bes met wat hulle het en onder baie moeilike omstandighede.

Hierdie mans en vroue moet deur die gemeenskap op die hande gedra word en nie as hul vloerlappe misbruik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article