Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Koos le Roux, die Speaker van die Drakenstein-munisipale raad, het vandeesweek die raad se posisie herbevestig en verdedig, naamlik dat die ondersoek na bewerings van ongerymdhede teen Conrad Poole, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, voortaan met geslote deure hanteer sal word. Le Roux het ook bewerings bevestig dat sy kantoor onbeskaamd Poole se regskoste betaal.

Hy het gereageer op Paarl Post se navrae te midde van verskeie opposisiepartye en inwoners van die vallei wat wou weet hoekom daar so gesloer word met dié ondersoek.

Die ondersoek spruit uit aantygings deur die GOOD-party in die munisipaliteit, wat Poole en van sy burgemeesterskomiteelede betrek by wat die party bestempel as ’n “betaal-vir-werk”-skema.

Keagen Gertse, ’n GOOD-raadslid wat die bewerings namens die party in Augustus verlede jaar aan die raad voorgelê het, kon by vorige navraag nie aan Paarl Post sê wat presies die skema-bewerings behels, hoeveel geld betrokke is en watter van Poole se burgemeesterskomiteelede daarby betrek word nie.

’n Onafhanklike ondersoek deur ’n regsfirma wat deur die Speaker aangestel is, het in Oktober verlede jaar “prima facie-bewyse” gelewer dat Conrad Poole glo wel sekere gedragskodes vir raadslede oortree het, en ’n onafhanklike tugkomitee sou deur die munisipale raad gestig word om die bevindings van dié ondersoek behoorlik na te gaan.

Le Roux wou nie vandeesweek aan Paarl Post sê of hierdie onafhanklike tugkomitee al gestig is en of Poole tot op hede enige verskyning gemaak het nie.

Hy sê hoewel sy kantoor bewus is van die aard van openbare belang in hierdie ondersoek, moet alle inligting eers aan die raad gerapporteer word.

Hy het ook in ’n brief, wat op 21 Desember verlede jaar in Paarl Post gepubliseer is, benadruk die hantering van die bewerings word voorgeskryf volgens ’n proses soos vervat in die gedragskode vir raadslede.

“Sodanige proses eindig met ’n raadsbesluit nadat ’n onafhanklike tugkomitee sy bevinding en aanbeveling voorgelê het.

“Die munisipale hantering van die aangeleentheid kom dan tot ’n einde en die munisipale raadsbesluit word aan die minister van plaaslike regering deurgegee.

“Indien enige inligting oor klagtes of getuies vooraf met die raad of die media gedeel word, kan dit die raad in sy besluitneming beïnvloed of tot viktimisering van getuies lei.

“Ons het nie hier te doen met ’n gebrek aan deursigtigheid nie, maar beskerming van die geloofwaardigheid van ’n proses sodat ’n tegniese verweer nie op die bevinding van die komitee gebring kan word nie.”

Paarl Post het verlede jaar berig oor bewerings dat Le Roux glo onbeskaamd Poole se regskoste in die ondersoek dek.

Le Roux het intussen dié bewerings bevestig en gesê sy kantoor beskik oor ’n raadsdelegering om die regskoste van ’n burgemeester goed te keur.

“Ek moes besluit of die klagtes handel oor die amptelike uitvoering (of nie) van verantwoordelikhede van die burgemeester, en indien wel, hoe verreikend gevolge kan wees vir beide die betrokkene en die Drakenstein-munisipaliteit.

“Om hierdie rede het ek beslis dat die geloofwaardigheid van die proses voordeel sal trek indien ’n regskundige die saak vir die verdediging van die beweerde klagtes hanteer.”

Le Roux sê ’n volledige verslag sal by geleentheid vir deursigtigheid aan die raad voorgelê word wanneer die onafhanklike tugkomitee sy aanbevelings doen.

Die VF-Plus in die raad het intussen ernstige besware aangeteken teen die Speaker se besluit om Poole se regskoste te dek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article