Die polisie wag steeds op die fisieke en sielkundige verslae van Sarie de Villiers, wat ses maande gelede berg- af met haar drie agterkleinkinders van Bainskloofpas gery het.
Die broers Caleb Booysen (8), Gradwell Booysen (5) en Joshua Booysen (2) is dood nadat die voertuig sowat 80 m teen die berg af is.
Die kinders het die dag by hul ouma en sy sou hulle vroegaand na hul huis in New Rest Wellington gaan neem. Sy het nooit daar uitgekom nie.
Ten tyde van die ongeluk was die pas gesluit vir opgraderingswerk en slegs diegene wat langs die pas woon of werk, is toegelaat om die pad te gebruik. Stop-en-ry-punte is opgestel om die verkeer op die pas te reël.
De Villiers het volgens ooggetuies geweier om by stop-en-ry-punte stil te hou en “met mening deur die geslote valhek-beheerpunt op die pad gery”.
Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se bevelvoerder, het dieselfde aand die familie oor die ongelukkige gebeurtenis ingelig.
Die ongeluk word deur Worcester-polisie se speurders ondersoek. Die verslae, wat ’n kritieke rol in die ondersoek speel, moet deur die Paarl-hospitaal beskikbaar gestel word waar De Villiers ná die ongeluk wat op 20 November 2021 gebeur het, behandel is.
AO Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, het by ’n vorige geleentheid gesê sodra die ondersoekbeampte die verslae ontvang, sal dit aan die staatsaanklaer oorhandig word. Die staatsaanklaer sal dan daarna oor die saak besluit.
Leensie Lötter, woordvoerder van die Weskus-distrik en Paarl-hospitaal, sê volgens Paarl-hospitaal se rekords was daar wel kommunikasie tussen die fasiliteit en Worcester-polisie waar ’n brief aan die ondersoekbeampte gerig is.
Sy voeg by: “Die proses behels dat ’n verslag óf met die pasiënt se toestemming óf met ’n hofbevel verkry kan word. Geen opvolg-kommunikasie is van Worcester-polisie tot op hede in hierdie verband ontvang nie.”
. Police are still awaiting the physical and psychological reports of Sarie de Villiers, who drove down the mountain six months ago with her three great-grandchildren on Bainskloof Pass.



