Laetitia Cupido ken elke hawelose in Wellington op die naam en fokus op elkeen se menswaardigheid.


“Ek is ’n gewone gemeenskapslid wat baie betrokke is in die gemeenskap. Dit lê op my hart om te gee – ek is ’n omgee-mens wat al 66 jaar oud is. Ek ken die lewe en omstandighede en glo enige mens het ’n reg op menswaardigheid, ongeag waarvandaan jy kom.”

Dit is Laetitia Cupido se sentimente terwyl sy die Kerstafel dek vir die ete wat sy en groot getalle vrywilligers vir Wellington se haweloses voorberei het op 16 Desember.

Hierdie is ’n jaarlikse tradisie wat sy nastreef en sy sê dat dié jaar ’n groot verassing is, aangesien meer mense hul ondersteuning kom bied het.

“Daar was finansiële bydraes en ook baie skenkings wat ek glo kom van mense wat die nood en swaarkry raaksien. Vanjaar kon ons ongeveer 30 kospakkies uitdeel, en deur die loop van die jaar is ek ook in staat om willekeurig uitreikings te doen vir die haweloses.”

Sy is geen vreemdeling onder die weerloses in Wellington nie.

“Hulle ken my, en ek ken elkeen van hulle op hul naam. Wat my so trots maak, is die respek wat die haweloses vir ons het wat help. Dit gaan nie oor die aansien wat ’n mens in die dorp geniet nie, dit gaan oor die respek wat ek kry vir alles wat ek uit my hart uit doen.”

Laetitia sê sy beweeg daagliks in die dorp, berispe die haweloses en spreek hulle aan wanneer hul gedrag nie hoflik genoeg is nie.

Sy is ’n gebore en getoë Wellingtonner en sal voortgaan met haar betrokkenheid by die gemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article