Verlede week op die maandelikse munisipale raadsvergadering van die Drakenstein-munisipaliteit het die Vryheidsfront Plus (VF Plus) weer probeer om die raad te oortuig dat die Bergrivier en die gebruik daarvan in diepte bespreek moet word, maar hul tweede mosie hieroor is weer nie goed deur die ander politieke partye ontvang nie.

Paarl Post het in Januarie berig oor algehele chaos wat in en om die Bergrivier afgespeel het toe die dorp ’n hittegolf ervaar het.

Behalwe dat sekere swemmers van die voetbrug oor die rivier tot in die water geduik het, drank openlik misbruik is, rommel oral agtergelaat is, dié gedeelte van die Bergrivier Boulevard-pad bykans onbruikbaar was vir motoriste omdat mense links en regs oor die pad geloop het, op die sypaadjies uitgekamp het en selfs op die middelmannetjie gelê het, is huiseienaars naby se tuine as toilette gebruik en opritte deur voertuie geblokkeer en moes hulle die harde musiek en geraas tot laataand aanhoor.

Videos en foto’s van die gebeure op die dag is wyd op sosiale media asook in nuusbladsye versprei.

Die munisipaliteit het daarna ’n verklaring uitgereik om te verduidelik watter stappe gedoen sal word om ’n herhaling van daardie naweek se chaos te voorkom.

Vullishouers is orals langs die oewer aangebring, mobiele toilette is opgerig, wetstoepassingsbeamptes het die gebied beman en ’n padblokkade is gehou, en hoewel lede van die publiek steeds die naweke daarna in die rivier geswem en daar uitgekamp het, was dit aansienlik rustiger.

Die VF Plus het op die raadsvergadering aan die einde van Januarie ’n dringende mosie oor die kwessie by die Bergrivier ingedien, maar slegs dié party se drie lede het gestem om die mosie volledig aan te hoor en te bespreek.

Op verlede week se raadsvergadering is raadslid André Fourie van die VF Plus vyf minute gegun om sy party se tweede mosie voor te hou. Dié keer was die mosie by die munisipale sakelys aangeheg en verskeie sprekers het vooraf aangedui hulle wil kommentaar daaroor lewer.

“Dit is duidelik ’n indringing van die rustige atmosfeer waaraan die Paarl gewoond geraak het – vir meer jare as wat ons almal kan onthou – op die oewer van die Bergrivier wat reg deur ons dorp loop,” lui die mosie.

Dit lui verder die Bergrivier is skielik “feitlik gekaap deur ’n klein minderheid” wat chaos gesaai het.

Fourie het ook gesê die dorp se reeds uitgeputte wetstoepassers en skoonmaak- en vullisdienste is toegegooi met werk teen ekstra koste, en niemand weet wat die bedrag beloop nie.

“Die Bergrivier verteenwoordig ’n groot trekpleister en bate wat deur menige dorp elders in SA beny word. Die VF Plus stel voor om ’n mosie te bring met betrekking tot moontlike ekonomiese ontwikkeling, werkskeppende geleenthede, toeriste-aantreklikheid ensovoorts; swem of geen swem, wye konsultasie met ander owerhede en naburige dorpe, handel, nywerheid en landbou, die burgerlike samelewing en -organisasies, wynland-toerisme en diegene wat direk geraak word, politieke beheer en verantwoordelikheid – natuurlik met die raad van die topbestuur van die administrasie, veral die burgemeester, burgemeesterskomitee en hierdie verhewe liggaam van verkose raadslede. Dit is basies wat hierdie mosie beoog om oor te dra,” sluit die skrywe af.

Raadslid Edgar Arendse van GOOD Party was eerste aan die beurt en hy het dit duidelik gestel sy party voel die Bergrivier is daar vir almal om te geniet.

Conrad Poole, die burgemeester, het op sy beurt gesê niemand kla oor mense wat in die Bergrivier by die oord in Simondium swem nie – ook nie in Velddrift nie.

Poole het ook gesê Fourie noem in sy mosie die chaos het vir ’n aantal naweke voortgeduur, maar hy is slegs bewus van een naweek waarin dinge gevaarlik geraak het en dat die maatreëls wat ingestel is die situasie daarna onder beheer gebring het.

Pool het ook genoem hy stem nie saam dat inwoners wat langs die rivier woon, se privaatheid geskend word nie.

Paarl Post het ook vroeër berig dat die munisipaliteit bevestig het dat dit tegnies nie onwettig is om in die Bergrivier te swem nie, maar dat dit onveilig is.

’n Voorstel is weer ingedien dat raadslede moet stem om te bepaal of dié mosie verder bespreek moet word.

Hoewel dit aanvanklik gelyk het asof die opposisiepartye ’n bietjie wik en weeg oor of hulle nou saam met die meerderheid DA-raadslede moet stem of nie, het altesaam 56 raadslede teen die VF Plus se mosie gestem.

Slegs die drie lede van die VF Plus het ten gunste van die mosie gestem.

Niemand het buite stemming gebly nie.

* The chaos on the banks of the Berg River earlier this year came under the spotlight again during last weeks Council meeting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article