Die wenners van die goud-afdeling in die kategorie medium.Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Die SA Olive-prysuitdeling, waar die land se vooraanstaande olyfolieprodu­sente vir hul goeie gehalte olyfolie vereer is, is die afgelope Vrydag (8 September) by Grande Roche in die Paarl gehou.

Altesaam 32 olyfolie- produsente het 82 verskillende ekstra suiwer- oftewel “extra virgin”-olyfolies ingeskryf waar plaaslike en internasionale beoordelaars die olie geproe het.

Volgens Jill Lanham, ’n plaaslike beoordelaar van Franschhoek, was vanjaar se olyfoes kleiner weens die reënbuie en donderstorms wat verlede jaar in Oktober voorgekom het.

Volgens haar vra olyfbome reën, maar hiérdie reën het op die verkeerde tyd geval.

Lanham het ook verduidelik die perfekte olyfolie bestaan uit ’n “goeie balans van geure, intensiteit, volharding en elegansie”.

Wenners is gekies in die stylkategorieë delikaat, medium en intens, waarin verskeie olyfolie-produsente van die Kaapse Wynland ook verskyn het.

Volgens Lanham kan hierdie kategorieë beskryf word as minder sterk (die delikate kategorie) tot meer prominent (die intense kategorie).

Richard Allen, voorsitter van SA Olive, het in sy toespraak by die spoggeleentheid gesê: “Ons [SA Olive] wens al ons wenners geluk. Hierdie jaar was uitdagend – veral as gevolg van ’n swak oes, wat aansienlik laer opbrengste behaal het en deur alle olyfverbouingslande oor die wêreld heen ervaar is.”

’n Paar plaaslike olyfolie- produsente in die Kaapse Wynlande, wat pryse by die geleentheid ontvang het, sluit in Tokara, Babylonstoren, Morgenster, Terre Paisible, Het Vlock Casteel en Olive Boutique.

Volgens Arnold Vlok van Babylonstoren was dit ’n eer om ’n prys by die geleentheid te ontvang, en dit dien as ’n “beloning vir die baie harde werk en lang en vroeë ure” by die werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article