’n Boom groei in my tuin – ’n pragtige lowergroen en silwer olyfboom. Hy is heeljaar groen en sy blare ken nie seisoen nie.

Nou, in die somer, word ek douvoordag wakker met die gesing van talle voëltjies wat in my boom begin baljaar – die oggendkoor, soos my pa ons geleer het.

Die boom gee my baie vreugde – net om te kyk hoe sorgvry vlieg verskeie spesies voëltjies in en uit en vreet fyntjies aan die saadvoeder wat tussen sy takke hang, of net om te luister hoe die wind sagkens aan sy takke tokkel.

En nou, vir die afgelope paar jaar, dra my boom elke jaar swaar aan ’n gesonde oes olywe.

Bowenal ook, het my olyfboom ’n spesiale storie om te vertel – dit is immers James se boom.

Ses jaar gelede was ek op ’n mediatoer by die Willow Creek-olyflandgoed in die Nuy-vallei. Na afloop van die dag het ons almal ’n klein olyfboomsaailing gekry om huis toe te neem.

Ek het die boompie, wat nie eens kniehoogte was nie, in my motor gelaai en teruggery Paarl toe.

Ek het ongelukkig nie my pa se groenvingers geërf nie en sukkel maar met die tuinbou-ding. Dus het ek die boom vergete in my motor gelaat.

Vroeg die volgende oggend ontvang ek die tragiese nuus dat ’n goeie vriendin se seun, wat ook baie goed met my kinders bevriend was, daardie nag in ’n motorongeluk dood is.

Die volgende paar dae was ’n uitsonderlik moeilike tydperk.

Intussen staan die olyfboompie nog heeltemal vergete agter in my motor.

James – my vriendin se enigste kind – is die Vrydag begrawe.

Toe ek die Saterdagoggend ná die begrafnis opstaan, onthou ek eers van die boompie. Ek is verbaas om hom nog lewend te vind waar hy nou al langer as ’n week agter die bestuurdersitplek staan. Ek besluit daar en dan ek gaan hom plant – vir James.

Dit was nie juis plantseisoen nie – die winter was eintlik net aan die begin. Maar ek grawe ’n gat in my klein tuintjie en maak die boompie staan.

En so begin hy te groei, en te groei en te groei.

Vandag staan James se boom twee meter hoog en pronk soos ’n ware standbeeld in my tuin – ’n monument vir ’n pragtige jong man wat heeltemal te vroeg gesterf het.

Dit is egter ook ’n simbool van die lewe en hoop in my tuin – veral oor die afgelope moeilike ses maande toe ons joernaliste ook gedwing is om tuis te werk. Ek het gereeld onder my prieel in my tuintjie gesit en werk wanneer die weer dit toegelaat het. As ek my oë van my rekenaarskerm af lig, pronk James se boom voor my en ek verwonder myself elke keer hoe hierdie reus van ’n kleine takkie af gegroei het. En dan, om verder te dink dat hy van ’n saadjie af gekweek is – ’n saadjie wat ook geoes is van ’n ander boom, ’n sirkel van die lewe wat reeds derduisende jare strek.

Wat sou ons sonder bome doen? Hulle voorsien mens en dier van voedsel, skaduwee, skuiling en suurstof. Hulle voorkom oorstromings, filter water en stabiliseer grond. Sommige is duisende jare oud en ander troon tot 100 meter bo die aarde!

Dink net aan die Ginkgo biloba, waarvan fossiele gevind is wat 270 miljoen jaar oud is, en ons leer hoe bome ’n integrale deel van die ontwikkeling van ons spesie geword het. Ook hoe sekere bome belangrike godsdienstige, politieke en kulturele simbole is.

Ek het juis ’n rukkie terug ’n draai in Mosselbaai gemaak waar een van Suid-Afrika se bekendste bome staan – die Posboom, wat sedert die jaar 1500 as “poskantoor” vir verbygaande seevaarders gebruik is. Dieselfde ou melkhoutboom staan vandag nog daar, met sy geskatte ouderdom meer as 600 jaar. Dink net watter stories het dié boom nie te vertelle nie.

Elders in die wêreld staan talle sulke bome wat nog die toets van tyd deurstaan.

Die Seders van God, byvoorbeeld, is ’n klein woud van ongeveer 400 Libanon-sederbome in die berge van Noord-Libanon. Hulle is van die laaste oorlewendes van die uitgebreide woude van die seders van Libanon wat in die antieke tyd in hierdie streek gedy het. Die seders van Libanon word meer as 70 keer in die Bybel genoem. Die antieke Egiptenare het hul hars gebruik vir mummifikasie en koning Salomo het die beroemde bome in die konstruksie van die eerste tempel in Jerusalem gebruik.

Maar ons boomryk raak al hoe skaarser namate die mensdom al hoe minder waarde aan hulle heg.

Die Amasone, byvoorbeeld, word teen amper die spoed van lig verwoes.

So ook is talle tuistes van Tarzan in Afrika gestroop vir hul waardevolle hout.

Maar oral word bome gestroop – reuse-woude uitgekap.

Maar luister mooi wanneer hierdie reuse val.

Die aarde rou – hy kreun en snik en skree, net soos wat ons gedoen het met die dood van ’n pragtige jongman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article