Die Paarl het ’n nuwe SA rekord-houer, en nie net een rekord nie, maar sommer twee op een slag.

Die klein Olivia White het onlangs tydens die SA kragoptel-kampioenskap in Fochville twee nuwe SA junior rekords opgestel. Hiervoor het sy ’n massiewe 150 kg in die squat-afdeling bo gehou en in die bankdruk-afdeling (bench press) 85 kg. Sy het naelskraaps die SA junior rekord in die dooierus-afdeling, waar sy 161 kg opgetel het, met net 500 gr misgeloop.

Wat Olivia se prestasies so merkwaardig maak, is dat sy hierdie sport nog net langer as ’n jaar beoefen.

Olivia, wat in 2019 aan Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer het, het in dieselfde jaar by Cross Fit-gimnasium in Suider-Paarl aangesluit.

Ná ’n ruk hier het Ivar Hayward, die eienaar en afrigter van die gimnasium, aan haar gesê hy sien baie potensiaal in haar as moontlike kragoptel-atleet.

Sy het ingestem om dit onder sy leiding te beoefen om te sien of sy daarin belangstel. Sy was egter gou in hierdie sport gefassineerd en het hard daarin begin oefen.

“Kragoptel hou jou nie net fiks nie, maar dit is baie uitdagend, help jou goed fokus en konsentreer en is in die algemeen ’n wonderlike sport om te beoefen – vir mans en vroue, oud en jonk.”

Tussen al haar harde oefening deur, is Olivia ’n kranige student en sy is tans in haar finale jaar as B.Com-student by die Universiteit Stellenbosch.

Haar dag bestaan dus uit oefening, fiskheidsklasse aanbied by CrossFit en dan nog studies ook.

Olivia is nou daarop toegespits om hard te oefen vir opname in die SA span in haar hoop om aan die 2022-Statebondspele, wat later vanjaar in Engeland plaasvind, deel te neem.

Sy droom ook groot en wil graag nog voor haar 23ste verjaardag binnekort ’n SA junior rekordhouer in kragoptel (squat) wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article