Die hange van Paarlberg weergalm nou met die klank van kettingsae wat bome afsaag.
Dit is als goed en wel, want dit is tereg deel van die Drakenstein-munisipaliteit se indringerplante-beheerprogram, wat deurlopend uitgevoer word.
Die doel hiervan is om ’n groot hap te maak in die oerwoud indringerbome wat aan die rante van die berg groei en om sodoende ook ’n brandgevaar te verminder.
Die huidige werk sluit ook in die rehabilitasie van die historiese begraafplaas aan die voet van Paarlberg naby Bosmanstraat.
Besoekers is nog tot onlangs hier begroet deur verwaarloosde grafte wat toegegroei is deur bosse asook bome wat omgeval het.
Historiese grafte hier sluit in dié van eerwaarde George Barker van die Londense Sendinggenootskap, asook sy dogter Elizabeth Barker, wat die stigter van die Hoër Meisieskool Paarl was. Die vrygestelde slaaf Jason Adams, wat in 1820 as die eerste lid van die Het Gesticht kerk gedoop is, is ook hier begrawe.
Die munisipaliteit het kennis geneem van die toestand van die begraafplaas en kontrakteurs is aangestel om indringerplante te verwyder.
Die projek is egter nie sonder sy slagoffers nie.
Inwoners van die gebied sê hulle het met hul eie oë reeds gesien hoe stokou en beskermde olienhoutbome deur die kontrakteurs uitgekap word.
Hulle sê ook toe hulle dit onder die aandag van die kontrakteurs bring, is hul versoek dat die olienhoutbome nie afgesaag word nie bloot geïgnoreer.
Gerald Esau, direkteur van gemeenskapdienste by die munisipaliteit, het gesê die proses behels die toediening van onkruidbeheer op die stompe, asook die oplig en veilig maak van bestaande inheemse bome. Die spesifikasies sluit verder in die verwydering van alle biomassa in die brandbaan aanliggend tot die huise en enige ander brandgevaar in die omgewing. Die gebied beslaan sowat 1,8 ha.
Hy het gesê gereelde inspeksies word deur die munisipaliteit se natuurbewaarder uitgevoer en hy is in kontak met verskeie mense in die gebied om hulle op hoogte te hou van die vordering. Die werk word gedoen na gelang van die weer.
* Residents in the Bosmanstraat area of Paarl say municipal contractors have been cutting down valuable and protected wild olive trees on Paarl Mountain as part of an alien vegetation clearing project.




