Altesaam 362 nuwe wooneenhede wink vir die Drakenstein met die onlangse goedkeuring van die Mountain Ridge-ontwikkeling vir maatskaplike behuising in Dal Josafat.

Bouwerk aan die eenhede wat uit woonstelle sal bestaan, sal na verwagting vroeg in die nuwe boekjaar begin. Die aankondiging is verlede week deur Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings in die Wes-Kaap, gemaak.

Volgens Jacqui Samson, uitvoerende direkteur: beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die Draken­stein-munisipaliteit, is die munisipaliteit baie opgewonde oor die projek aangesien dit die eerste maatskaplike behuisings­projek buite die metro in die Wes-Kaap is wat geïmplementeer kan word.

Samson sê die groter Dal Josafat-projek behels die ontwikkeling van bekostigbare behuisingsgeleenthede wat dan ook die nuwe 362 woonstelle sal insluit.

“Maatskaplike behuising is uitsluitlik gemik op die verskaffing van bekostigbare huur­eenhede en teiken spesifiek huishoudings met ’n inkomste van tussen R1 850 en R22 000 per maand. Hierdie woonstelle word ontwikkel deur ’n maatskaplike behui­singsinstituut (SHI) of ander ontwikke­lingsagent as vennoot van die provinsiale departement van menslike nedersettings en die Drakenstein-munisipaliteit.”

Samson sê die finansiering vir die ontwikkeling van die projek word gedeeltelik gesubsidieer deur die regering se regulatoriese owerheid (SHRA), wat met die projekte se goedkeuring geld vir die ontwikkeling beskikbaar sal stel. Volgens Samson maak die ontwikkelaars ook ’n bydrae tot die projek. Sy sê die SHI is primêr verantwoordelik vir goedkeuring van geskikte huurders, maar dat hulle wel met die munisipaliteit sal konsulteer in dié verband.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article