Maputo Thys, ’n begunstigde van ’n huis by die Vlakkeland behuisingsprojek toegerus met ’n sonkraggeiser. De la Roche Steyn is Thys se vrou wie gestremd is, en hulle wag al 25 jaar vir ‘n huis. Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Die Vlakkeland-behuisingsprojek in die Paarl, wat deur die Wes-Kaapse regering van stapel gestuur is, het verlede week nog begunstigdes verwelkom – in huise wat met sonkraggeisers toegerus is.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, Tertuis Simmers, die provinsiale minister vir infrastruktuur, en Conrad Poole, die Drakenstein-munisipaliteit se geskorste burgemeester, het die huise verlede Maandag (19 Februarie) aan die begunstigdes oorhandig.

Volgens Ntobeko Mbingeleli, Simmers se woordvoerder, is dit gestremde begunstigdes wat die huise – toegerus met sonkraggeisers – ontvang het.

Lede van die provinsiale regering het vyf begunstigdes by die Vlakkeland-behuisingsprojek ontmoet, wat saam met Winde, Simmers en Poole die lint by hul nuwe tuiste kon knip. Die meeste van hulle wag al oor die 25 jaar vir hul eie woning.

“Simmers het in die afgelope boekjaar ’n behuisingsprojek van stapel gestuur, wat begunstigdes met gestremdhede van vyf verskillende provinsiale behuisingsprojekte sal help om huise met sonkraggeisers om die gevolge van beurtkrag te bekamp, te bekom,” lui ’n persverklaring deur die provinsiale departement van infrastruktuur.

Maputo Thys, ’n begunstigde van ’n huis by die Vlakkeland behuisingsprojek toegerus met ’n sonkraggeiser. De la Roche Steyn is Thys se vrou wie gestremd is, en hulle wag al 25 jaar vir ‘n huis. Foto: Jana Scheepers

Volgens die persverklaring was die projek suksesvol en sal dit in die 2024-’25-boekjaar voortleef.

“Hierdie inisiatief kom neer op ’n R27,5 miljoen-belegging om die lewe van diegene in die grootste nood te verbeter,” het Simmers in die persverklaring gesê.

“Die Vlakkeland-behuisingsprojek is geoormerk om 2 556 eenhede te bou en sal ’n kommersiële perseel insluit. Tot nou is 755 huise aan begunstigdes oorhandig, en 958 gedienste persele is voltooi,” volgens ’n verdere persverklaring.

Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het sedert 2019 veranderinge aan die bestaande behuisingskriteria aangebring, wat voorsiening maak vir mense met gestremdhede, afgetrede plaaswerkers en agterplaasbewoners.

“Die begunstigdes van 19 Februarie se oorhandigingseremonie was ontvangers van hierdie beleidsverandering.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article