Die Stellenbosch-munisipaliteit het vandeesweek ingetree om die Suid-Afrikaanse maatskaplike sekerheidsagentskap (Sassa) by te staan met die uitreiking van nuwe maatskaplike toelaagkaarte (swartkaarte) reg oor die streek na aanleiding van wydverspreide vertragings en uitdagings met toeganklikheid.
Begunstigdes moes oorspronklik teen 28 Februarie van die ou goue Sassa-kaart na die nuwe swartkaart oorskakel, maar hierdie spertyd was landwyd nie haalbaar nie weens onder meer talle tegniese vertragings deur Postbank.
Sassa het die spertyd op die nippertjie na 20 Maart verleng.
Op ’n formele seremonie Maandagoggend (3 Maart) het Jeremy Fasser, die Stellenbosch-burgemeester, en wyksraadslede van reg oor die munisipale gebied ’n memorandum van verstandhouding onderteken om kwesbare en bejaarde inwoners gedurende die oorgang na nuwe Sassa-kaarte te ondersteun.
“Hoewel Sassa onder die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling val, erken ons die uitdagings wat ons inwoners ervaar,” sê Fasser.
“Dit is waarom ons as munisipaliteit intree om te help – deur noodsaaklike dienste nader aan die mense te bring en ’n gladder oorgang te verseker vir diegene wat dit die meeste nodig het.”
Die inisiatief spreek verskeie kwessies aan wat die uitrolproses geteister het, insluitend erge vertragings, buitensporig lang rye en die las van langafstand-reis wat baie inwoners in die gesig gestaar het wanneer hulle probeer het om hul nuwe kaarte te bekom.
Om hierdie kwessies op te los, het die munisipaliteit verskeie lokale in Stellenbosch beskikbaar gestel – strategies geplaas om te verseker dat inwoners toegang tot Sassa-dienste in hul gemeenskappe kan kry.
. Inwoners van Klapmuts kan tot die spertyd op 20 Maart elke Maandag en Woensdag van 08:30 tot 15:00 by die Klapmuts-biblioteek hiermee gehelp word.
Inwoners kan ook enige van die volgende plekke van 08:00 tot 17:00 vir hulp met hul nuwe Sassa-kaarte besoek:
. Franschhoek-stadsaal: 14 Maart;
Lanquedoc, Pniel, Kylemore (al drie dorpe se klubhuise): 13 Maart;
. Elsenburg (JJ Rhoode): 10 Maart;
. Khayamandi (Korridor): 7 Maart;
. Vlottenburg (VGK Kerksaal): 12 Maart;
. Stellenbosch-stadsaal: 12 Maart; en
. Jamestown en Raithby (Metodiste-kerksaal, Raithby): 14 Maart.
Die munisipaliteit moedig alle geregtigde inwoners aan om van hierdie gerieflike liggings en tye gebruik te maak.


