Verteenwoordigers van Douglas Green en van die plaaslike toerismebedryf het verlede week planne om die ou blokhuis buite Wellington te restoureer met die Wellingtonse erfeniskomitee bespreek. Hier, van links, staan rdl. Nical Sauerman en rdl. Albertus Buckle van die Drakenstein-stadsraad, Clive Theunissen van die stadsraad en nuwe lid van die erfeniskomitee, Barry Coetzee, ’n verteenwoordiger van die Wellingtonse toerismebedryf, Ree du Toit van Dougls Green, Lenize Gerber, voorsitter van die Wellingtonse erfeniskomitee, en Tim Hutchinson van Douglas GreenFoto: Johan Nel


Splinternuwe planne om die historiese blokhuis langs die Hermonpad buite Wellington van erge verwaarlosing te red, is verlede week op die mees onlangse vergadering van die Wellingtonse erfeniskomitee bespreek.

’n Afvaardiging wat bestaan het uit senior bestuurslede van die Douglas Green-wynmakery en ’n verteenwoordiger van die Wellingtonse toerismebedryf het die byeenkoms van die erfeniskomitee spesiaal oor die toekoms van die blokhuis kom toespreek.

Volgens Tim Hutchinson en Ree du Toit van Douglas Green het hulle organisasie oor die afgelope paar jaar waardevolle ondervinding opgedoen om die historiese waarde van die geboue wat Douglas Green se wynmakerye by Franschhoek en Stellenbosch huisves, te ontwikkel in volwaardige en gewilde toerismebestemmings.

Met die onlangse aankoop van die plaas Olyvenhout langs die bestaande eiendomme van Douglas Green buite Wellington, besit die organisasie nou die plaasgrond aangrensend aan die ou blokhuis. Die maatskappy wil nou probeer om die toerisme-waarde van die blokhuis na behore te ontwikkel.

Douglas Green besit nie alleen nou die grond rondom die blokhuis nie maar ook die historiese ou plaashuis oorkant die pad waar die maatskappy beoog om ’n gewilde gesinsrestaurant te ontwikkel.

Indien die nodige toestemming van owerheidsweë verkry kan word, beoog die maatskappy om die blokhuis en die ou plaashuis gesamentlik te ontwikkel.

Die blokhuis sal volledig gerestoureer word en binnekant sal die grondvloer moontlik omskep word in ’n klein museum wat artefakte sal huisves uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog toe die blokhuis gebruik is om die spoorlyn teen moontlike aanvalle deur boeremagte te beskerm.

Die boonste vloer sal omskep word in ’n proelokaal vir besoekers wat in die wyne wat deur Douglas Green gemaak word, belangstel.

* With the help of Douglas Green, concerted efforts are now being made to restore and protect the historical block-house in Wellington, which dates back to the Anglo Boer War.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article