Op 28-jarige ouderdom verwag ’n mens nie dat daar fout met jou niere kan wees nie, maar Donovan Adams van Amstelhof moes tien jaar gelede hierdie werklikheid in die gesig staar.
Donovan, wat ’n kranige rugby-speler was, vertel hy het aanvanklik nie veel daarvan gedink toe hy op die rugbyveld erg moeg geword het, sy mond gedurig droog was en hy baie gewig verloor het nie.
“Ek het maar gedink ek verloor so baie gewig omdat ek so baie geoefen het. Ek was ook baie moeg. Ek het daardie tyd twee seuntjies gehad en ek kon nie eens met hulle speel nie, dan was ek moeg,” vertel hy.
Maar toe hy weer op ’n dag glad nie goed voel nie en hy en sy vrou besluit dat hy liewer Paarl-hospitaal toe moet gaan, het hulle die skoknuus gekry dat albei sy niere elk slegs 10% funksioneer.
“Dokters by die Paarl-hospitaal het skanderings gedoen en gesien my niere het baie verklein. Ek is toe na die Tygerberg-hospitaal verwys.”
Sy vrou, Davidine, vertel sy onthou toe die dokter by die Paarl-hospitaal hulle inroep en sê hulle moet hulle op die ergste voorberei, maar hulle het geweier om aan die ergste te dink en liewer hul geloof in God geplaas.
Donovan het daarna verskeie behandelings ondergaan, waaronder dialise.
“Toetse is by die Tygerberg-hospitaal gedoen en ek het ’n week gewag om te hoor of ek ’n nieroorplanting gaan kry of nie. Dit was nie ’n lekker tyd nie. Dit was lewe of dood en baie dinge het deur my kop gegaan. My twee kinders was nog so klein; ek het net aan hulle twee gedink,” vertel Donovan.
Davidine sê haar man se siekte het hul oudste seun, wat toe net vyf jaar oud was, erg geraak omdat hy gesien het hoe siek sy pa was.
Volgens Donovan het die paneel dokters en professors by die Tygerberg-hospitaal bevind hy is ’n geskikte kandidaat vir ’n nieroorplanting.
“Die dokter het my in Februarie 2017 gebel om te sê ek moet gou kom aangesien hulle moontlik ’n nier vir my het, maar daar was ander komplikasies met die skenker en ek kon toe nie die nier kry nie. Twee maande daarna het ek weer ’n oproep gekry dat ek dadelik moet kom. Ek het op 10 April 2017 ’n suksesvolle nieroorplanting ondergaan.”
Donovan het nog drie weke daarna in die hospitaal aangesterk voordat hy huis toe kon gaan. Daarna moes hy elke tweede dag by die hospitaal wees vir ’n ondersoek, toe elke drie dae, oor ’n week en vandag doen hy sy opvolg besoeke elke maand by die Tygerberg-hospitaal.
“Nadat ek herstel het, kon ek die verskil voel. Ek het nie meer siek gevoel nie, ek kon lekker ver stap en ek kon met my kinders speel en die kleintjie optel sonder om moeg te word,” vertel Adams.
Die paartjie sê hul ondersteuningsnetwerk van hul familie, haar kollegas en hul kerk was geweldig goed.
Donovan sê Davidine was sy grootste ondersteuner. “Sy het baiekeer geryloop tot by die Tygerberg-hospitaal om by my te wees.”
Davidine sê Donovan se siekte was nie maklik vir hulle as jong getroude paartjie nie.
“Donovan kon nie meer werk nie en ek was al een wat gewerk het. Dit was nie altyd maklik nie. Ek het in depressie verval en moes ook behandeling kry. Op ’n dag het ek vir myself gesê een van ons twee moet gesond wees; ons het kinders en ek het geweet dit sal ek moet wees,” vertel Davidine.
Donovan se boodskap aan ander mense wat dalk ook vir ’n skenking wag, is om altyd positief te bly.
“Hierdie ding is iets wat in jou kop sit en ’n mens dink allerhande dinge. Wees net positief en klou vas aan jou geloof. Sonder geloof sou ek dit nie gemaak het nie.”
Vir vroue of mans wat deur dieselfde gaan, wil Davidine bemoedig om positief te bly vir hul metgesel se onthalwe.
“ ’n Mens raak moeg langs die pad, maar bly positief.”
Sy sê ook Donovan se nieroorplanting het hom nie net gesond gemaak nie, maar hy kon toe ’n aktiewe rol in die huis vervul.
“Ons kinders het nie net gesien hul pa is daar nie; hulle kon tyd met mekaar deurbring, saam ’n bal gooi en Donovan kon gaan kyk hoe ons oudste seun speel.
“Hy kon aktief betrokke wees in hul lewe, en dit het ’n groot verandering in ons huis gebring.”
Vandag het Donovan en Davidine vier pragtige seuns.. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) word beraam dat 10% van mense wêreldwyd aan die een of ander vorm van chroniese niersiekte ly.
Daarom word beraam dat vyf miljoen Suid-Afrikaners ouer as 20 deur chroniese niersiekte geraak kan word. In Desember 2017 was die algehele aantal pasiënte op niervervangingsterapie met dialise of nieroorplanting in die land 10 744.
Wêreldnierdag is Donderdag 10 Maart gedenk en die tema “Niergesondheid vir almal” het daarop gefokus om die kennisgapings te oorbrug om niergesondheid te verbeter deur verhoogde niersorgopvoeding en bewustheid in die openbare sektor.
WAT JY VIR JOU NIERE KAN DOEN
Jy kan die gevaar van die ontwikkeling van niersiekte op verskeie maniere verminder.
Bly fiks; wees aktief; volg ’n gesonde dieet. Hou jou bloedsuiker in toom en beheer jou bloeddruk.
Laat jou nierfunksie nagaan as jy een of meer van die “hoë risiko”-faktore het, soos diabetes of hipertensie, vetsugtig is of indien jy familiegeskiedenis van niersiekte het.





