Die nuwe blom van die Strooidakkerk, ds. Elsché Eygelaar.


Die histories Strooidakkerk in die Paarl, die heel oudste gemeente in die vallei, pronk met ’n nuwe blom in sy pot. Dit is in die vorm van sy nuwe leraar, ds. Elsché Eygelaar, ook die kerk se eerste vroue-dominee.

Elsché (32) het Sondag (30 Januarie) amptelik hier dominee geword toe sy haar eerste erediens gelei het.

Sy neem die leisels oor by die immer gewilde ds. Bekker Nieuwoudt, wat einde verlede jaar, ná 36 jaar as leraar van die Strooidakkerk, afgetree het.

Elsché het die meeste van haar grootwordjare in die Karoo-dorpie Laingsburg deurgebring, waar haar pa die skoolhoof was.

Sy is ná skool na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar studies in teologie begin het.

Elsché het haar lisensiaatjaar in Brackenfell voltooi, waarna sy ’n rukkie in die Vrystaat as sendeling deurgebring het terwyl sy op haar eerste beroep gewag het.

Sy is aan die einde van 2014, op die ouderdom van net 24 jaar, deur die suidelike voorstede-gemeente in Constantia beroep, waar sy tot aan die einde van verlede jaar leraar was.

Elsché sê dit is ’n geweldige eer vir haar om na só ’n groot en geskiedkundige gemeente soos die Strooidakkerk beroep te word.

Sy erken hoewel baie groot uitdagings vir haar hier voorlê, was die kerk aan die begin effe intimiderend.

“Maar ek het ’n baie warm verwelkoming van die gemeente ontvang, en lidmate daag nou nog by die pastorie op om my te kom groet en ’n lekkerny aan te dra.”

Elsché sê sy gaan onder meer by die Strooidakkerk daarop fokus om aan die jeug te bou, veral lidmate tussen 18 en 35 jaar, om sodoende vir hulle ’n volwaardige plek in die kerk te bou en godsdiens vir hulle aan te bied as lewensvaardigheid, en nie net Bybelskrif nie.

Elsché erken dat die bediening byna ’n 24-uur-per-dag-sewe-dae-per-week-beroep is, maar sy maak wel ’n bietjie tyd vir haarself ook.

Sy is lief vir die kunste, spog met ’n baie interessante versameling jenewers, en het ook al haar eie jenewer gemaak. Daarbenewens het sy ’n groot liefde vir die natuur en fietsry.

Sy is ’n fietsry-ambassadeur vir die borskankerbewusmakingsprojek IKBoobies en ry gereeld fiets om geld vir dié organisasie in te samel.

Sy beoog juis om later vanjaar, wanneer Strooidakkerk-lidmate besoek aflê by die Karoo-dorpie Williston se kerkbasaar, waar hulle jaarliks ’n snoekbraai hou, om die lang, eensame pad van Ceres na Calvinia as geldinsamelingsprojek saam met vriende per fiets af te lê.

Dus, buiten die feit dat sy opgewonde is om die mooie Paarl haar tuiste te maak, sien sy ook baie daarna uit om Paarlberg en die omliggende gebiede se fietsryroetes te verken.

Die kerk bly egter Elsché se eerste en grootste prioriteit en sy sien baie daarna uit om die gemeente van die Paarl te dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article