Klubhuis, ’n nuwe dokumentêre reeks oor klubrugby, begin op 13 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) en wys dat provinsiale en nasionale rugby nie die enigste deel van die sport is wat aanhangers hul kele laat hees skree nie.


Hulle het sy oog sommer oopgeslat. ’n Stukkie watte word met kromverbinde vingers teen die sny gehou. Maar hy glimlag, want klubrugby is nie bloot ’n tydverdryf nie. Dis nie net bloed, sweet, snye en gekneusde vlees en ego’s nie. Dis om te lewe, of minstens aan ’n ganse gemeenskap lewe te gee.

Klubhuis, ’n nuwe dokumentêre reeks oor klubrugby en wat op 13 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, wys dat provinsiale en nasionale rugby nie die enigste deel van die sport is wat aanhangers hul kele laat hees skree nie. Klubhuis neem kykers op reis na die hartkamers van die Suid-Afrikaanse rugbylandskap; daar waar kameras selde indien ooit kom, waar grasvelde ’n luukse is en die waardes van rugby – spanwerk, dissipline, en respek – gemeenskappe op en veral van die veld af saamsnoer en vir nog ’n môre laat kans sien.

Die vervaardigers van Klubhuis het die land vol gereis agter klubrugby­stories aan – van Saldanha tot Hawston en van Thabazimbi tot Vanwyksvlei. Die reeks oor ses episodes is in die bestek van meer as ’n jaar verfilm. Die vervaardigers het bevind dat derby-Saterdae en skemeroefensessies deel is van die plek waar die trane afgedroog en die oorwinnings gevier word – die klubhuis.

Vir baie van die spelers is klubrugby ’n tuiskoms, ’n uitkoms, ’n droom om raakgesien te word en eendag ook op die groot velde van die land en die wêreld te speel. In Hawston duskant Hermanus is die voormalige Springbok Gio Aplon die goue seun wat vir menige jong speler steeds ’n inspirasie is. In Prins Albert predik Jason Jaftha, ’n voormalige beroepskeidsregter, rugby uit sy reëlboek en aan die skadukant van Johannesburg is die Raiders, ’n klub wat glo aan die ontginning van geleenthede en tweede kanse.

Die ses klubs en die datums waarop dit uitgesaai word, is as volg:

13 Desember 2024 – Saldanha

20 Desember 2024 – Northam Rhinos

27 Desember 2024 – Prins Albert

3 Januarie 2025 – Vanwyksvlei

10 Januarie 2025 – Hawston

17 Januarie 2025 – Raiders

Klubhuis begin op 13 Desember om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article