Hugenote Kollege maak met trots die aanstelling van dr. Frederick Marais as dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie bekend om navorsing te doen oor kerklike en gemeenskapsinnovasie.

Dr. Marais sal die rol van dekaan met ingang 1 Maart 2024 by prof. Erwin Schwella, wat aftree, oorneem.

Hy beskik oor die grade BA, BTh, MTh en DTh, almal van die Universiteit Stellenbosch.

Dr. Marais was tot einde November vanjaar predikant in sinodale diens van die Sinode van Wes-Kaapland. In sy dienstydperk van meer as 20 jaar het hy uitgebreide ervaring opgedoen met konsultasiewerk van gemeentes, die toerus van gemeentelede en die ontwikkeling van missionale teologie. Hy het ’n groot rol gespeel in die Suid-Afrikaanse Vennootskap vir gestuurde gemeentes en die begeleiding van gemeentes tot missionale innovasie.

Hy het later baie betrokke geraak by teologiese opleiding en het baanbrekerswerk gedoen oor die belangrike rol van geestelike formasie in teologiese opleiding. Hy is die huidige voorsitter van die Algemene Kuratorium van die NG Kerk.

Dr. Marais het ’n sleutelrol vervul in die konseptualisering en opbou van die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit in Wellington.

Hugenote Kollege voorsien dr. Marais sal ’n belangrike rol vervul in die begeleiding van gemeenskappe om op innoverende wyse nuwe strategieë te ontwerp en uit te voer om gemeenskappe te omvorm tot lewegewende instelling wat die diversiteit van ons land en omvattende heling van ons omgewing dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article