Windmeul Primêr pronk met ’n splinternuwe skoolbus wat onlangs aan hom geskenk is. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Moslem-liefdadigheidstrust (SAMCT) die skool se nood vir vervoer raakgesien het.
Die waarde van die nuwe bus vir die skool, wat in Noorder Agter-Paarl geleë is, is R1 245 000. Volgens die trust kwalifiseer die kinders nie vir vervoer wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) verskaf word nie.
“Die verwydering van vervoer het duidelik grondslagvlak-leerders en ander jong leerders by die skool aan buitengewoon onveilige toestande blootgestel wat skoolbywoning betref. Om vroegoggend, wanneer dit nog donker is in die wintermaande, minstens 3 km op grondpaaie te midde van voertuigverkeer te stap, het gewis die lewe van leerders in gevaar gestel en geregverdigde kommer onder ouers sowel as skoolbeamptes veroorsaak,” sê Faried Boltman, ’n verteenwoordiger van SAMCT.
SAMCT is ’n organisasie wat finansiering, dienste en ander hulpbronne verskaf vir die verbetering van die lewe van kwesbares, ontheemdes en benadeeldes, ongeag ras of geloof.
Hulle werk ook daaraan om behoeftige organisasies op die gebied van gesondheidsorg, maatskaplike ontwikkeling, armoedeverligting en onderwys te ondersteun.
Paarl Post het na die WKOD uitgereik oor die beweerde onttrekking van hul leerdervervoer in die gebied. Millicent Merton, ’n woordvoerder vir die departement, het hierop beantwoord.
“Ingevolge die WKOD se leerdervervoerskemabeleid word vervoer verskaf indien die afstand wat die leerder van sy/haar woning na die naaste toepaslike skool moet stap, vyf kilometer of verder is. Daar is twee skole wat nader aan die leerders se huise is as Windmeul Primêr en Windmeul-leerders kwalifiseer dus nie vir leerdervervoer nie.
“Ons wil graag die Suid-Afrikaanse Moslem-liefdadigheidstrust bedank vir hul ruim skenking aan die skool.”
Windmeul Primêr is geleë in ’n landelike gebied en baie van die kinders wat die skool bywoon, woon op nabygeleë plase waar hul ouers woon. In baie gevalle kom hulle ook uit lae-inkomste-huishoudings waar ouers nie private vervoer kan bekostig nie, meen Boltman.
“Gesonde opvoeding is van kritieke belang om die siklus van armoede te verbreek en elke kind verdien ’n regverdige kans om sukses te behaal, ongeag die finansiële omstandighede van sy of haar ouers. Deel van daardie opvoedkundige proses is toegang tot veilige deurgang na en van die skool. Vervoer moet dus beskou word as ’n sleutelkomponent van enige fasiliteit wat betrokke is by kindersorg en ontwikkeling,” sê hy.
Toe SAMCT te hore kom van die skool en die kinders se dilemma, het hulle dit hul werk gemaak om met ’n oplossing vorendag te kom. Hulle het onmiddellik stappe geneem om die situasie reg te stel met die verskaffing van ’n geborgde bus – dit als om sodoende ’n potensieel massiewe finansiële las van die benadeelde skool te verwyder, terwyl dit terselfdertyd veilige en betroubare vervoer vir sy baie jong leerders verseker, asook gemoedsrus aan betrokke ouers te bring.
“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar om jong leerders, wat hul bes doen in reeds moeilike omstandighede, bloot te stel aan die bykomende veiligheidskwessies en vrese wat verband hou met die deurry van oop paaie op ’n daaglikse basis,” voeg Boltman by.
“Die skool het duidelik die veiligheidskwessies wat hulle in die gesig gestaar het, erken, maar het bloot nie die finansiële vermoë gehad om die vervoer wat so desperaat nodig was, te voorsien nie.
“Gevolglik het ons van die SAMCT met graagte gehelp deur ’n bus te finansier, wat die skool in staat stel om verantwoordelikheid te aanvaar om sy leerders veilig na en van die skool te vervoer, in plaas daarvan om leerders op hul eie op die paaie los te laat.”
Die bonuspunt van die bus is ook die feit dat die leerders nou aan eksterne kulturele en sportaktiwiteite kan deelneem, wat as noodsaaklik beskou word om die algehele leerervaring uit te brei en bykomende geleenthede vir die skool se leerders te skep.
“Ons is vol vertroue dat deur die toevoeging van die sleutelkomponent van veilige vervoer, die kinders wat hierdie laerskool bywoon, nou beter toegerus sal wees om op hul lesse te konsentreer – sonder om te worstel met die bykomende bekommernisse van moegheid en veiligheid, terwyl hulle ook nou in staat is om die wyer wêreld te ervaar deur gereelde opvoedkundige uitstappies en buitemuurse sportuitstappies te onderneem.”





