Die intensiteit van die 2022-Bergrivier-kanomarathon het vandeesweek ’n rat opgeskuif toe die elfmalige kampioen Hank McGregor sy naam by die inskrywingslys vir die vierdaagse klassieke wedvaart van Paarl tot Velddrif van 6 tot 9 Julie gevoeg het.
McGregor het meer wedrentitels en individuele sneltrajekte gewen as enige ander roeier in die wedren se geskiedenis, en het gesê die 2022-weergawe van die strawwe 240 km-wedvaart is ’n belangrike deel van sy planne vir die jaar.
Die wêreldberoemde marathon sal vanjaar ná die Covid-19-pandemie terug wees met ’n volle veld van deelnemers.
’n Nuwe weergawe sal gebied word vir amateur- of minder fikse roeiers, wat ook vanjaar die Bergrivier-kanomarathon wil aandurf.
Die organiseerders het ook ’n nuwe, korter roete bekend gestel.
Die “Berg 120” sal saam met die hoof-wedvaart aangebied word en roeiers elke dag in staat stel om die tweede helfte van ’n skof aan te pak.
“Dit is ’n aangename, alternatiewe opsie vir diegene wat nie die volle 240 km wil roei nie,” sê Brandon Macleod, die wedrendirekteur.
Die Bergrivier-marathon word beskou as een van die moeilikste ultra-roeiwedvaarte, met die riviervlak wat kan wissel en die onvoorspelbare Kaapse winterweer wat selfs gesoute roeiers sal uitdaag.
“Vir baie roeiers is die volle Berg’ net ’n bietjie te ver, dus sien ons die Berg 120 as ’n kans vir diegene om die rivier asook die unieke gees, wat met die wedvaart gepaard gaan, te geniet.
“Dalk sal sulke roeiers selfvertroue en entoesiasme hê om volgende jaar die volle wedvaart aan te durf,” sê Macleod.
Roeiers kan in enkel- of dubbelkano’s inskryf.
Só lyk roete
Dag 1: Skooltjie na Delsma (nagenoeg 30 km);
Dag 2: Gouda na Bridgetown (sowat 30 km);
Dag 3: Soetdraai na Soutkloof (digby 36 km);
Dag 4: Kersefontein na Velddrif (die langste skof – 38 km).. Besoek die webblad berg.org.za vir nog inligting.




