’n Vragmotor het op die Franschhoek-pad buite die Paarl op ’n bakkie omgeslaan. ’n Paarlse chirurg en sy dogter is in die voorval beseer. Foto: DFW

Credit: SYSTEM

’n Pa en dogter van die Paarl het wonderbaarlik die dood vrygespring toe ’n vragmotor verlede Donderdagmiddag (11 Mei) op die R301, ook bekend as die Franschhoek-pad, bo-op hul bakkie omgeslaan het.

Dr. Quintin Moodie, ’n chirurg wat praktiseer in die Paarl, vertel hy en sy dogter Jenna was op pad huis toe nadat hy haar by die Laerskool Courtrai, waar sy ’n leerder is, opgelaai het, toe die voorval gebeur het.

“Ons het in die pad afgery gekom en dit was een van daai dinge wat regtig in ’n splitsekonde gebeur het. Ons het gesien die trok val om en my dogtertjie het toe hardop geskree wat aan die gebeur is. Ek het toe in daai stadium uitgeswaai. Die lank en die kort van die hele storie is dat dit net genade van Bo is dat ons al twee lewe. Ek dink geen mens kan sê hulle het daai ding self gedoen nie. There was a higher power involved. Vir seker!”

Die ongeluk het afgespeel omstreeks 14:23 reg oorkant die Boschenmeer-gholflandgoed. Volgens Drakenstein-plaaswag was die vragmotor besig om boumateriaal af te laai toe dit omgeslaan het. Die vragmotor vorm deel van die konstruksiespan wat tans besig is met padwerk aan die R301.

Moodie sê Drakenstein-plaaswag was eerste op die toneel om te help. As ’n pa was dit vir Moodie baie frustrerend om te sien dat sy kind vir drie ure vasgevang is in die wrak terwyl hy nie regtig enigiets op daardie oomblik kon doen nie. Sy vrou het haar ook onmiddellik na die toneel gehaas.

“Ek het aanvanklik ook self vasgesit in die voertuig, maar ek het myself uitgebreek. Toe ek uitklim, het ek daai vrees en angs gevoel, want sy het haar bewussyn verloor. Sy het ’n kopbesering ook opgedoen. Dit was die vrees wat enige ouer sou hê op daai stadium van wat aan die gebeur was,” vertel Moodie terwyl hy terugdink aan die noue ontkoming.

“Al wat ek kan sê, is my volle eer gaan aan Drakenstein Farmwatch, wat eerste gereageer het op die ongeluk. Dan ook ER24 se paramedici en ambulans wat op die toneel was en EMS se reddingspan en die brandweer. Elke persoon uit die reddingspanne wat op daai toneel was het elke sekonde gewerk om dinge te laat gebeur. Daar is nie een sekonde gemors nie. Dinge het lank geneem, want hulle moes eers die trok stabiliseer voordat hulle kon voortgaan met goed en daai manne het alles laat gebeur. Daar was kommunikasie tussen daai spanne wat jy nie kan glo nie, en as dit nie vir hulle was nie, dink ek was dinge baie, baie anders vandag.”

Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê EMS en ER24 het hand aan hand gewerk om vir Jenna uit die wrak te help en mediese hulp aan haar en Moodie te verskaf.

“Twee reddingsvoertuie en twee ambulanse, van onderskeidelik EMS en ER24, is na die toneel gestuur.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die reddingspanne moes gespesialiseerde toerusting gebruik om vir Jenna uit die bakkie te bevry.

“Nadat die meisie bevry is, is albei pasiënte vinnig geassesseer. Die man het matige beserings gehad, terwyl die meisie in ’n kritieke toestand was. Die pasiënte is behandel en die meisie is voorsien van gevorderde lewensondersteunende intervensies voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is,” voeg Meiring by.

Volgens Moodie is hy en Jenna albei opgeneem in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal.

“Ek het harsingskudding gehad en net snye en kneusplekke. My dogtertjie het albei haar bene gebreek waarvoor sy al twee keer geopereer is en sy sterk baie goed aan in die hospitaal.”

Hy voeg by dat hy en sy familie die ondersteuning van die gemeenskap waardeer, maar vra dat hul privaatheid gerespekteer word.

“Dit is ’n bietjie moeilik, want ek is ’n chirurg op die dorp en baie van my pasiënte stel belang en dis omdat mense lief is en omgee. Die gemeenskap het ons gedra en dit is ons ewig voor dankbaar. Dit is vir haar (Jenna) baie traumaties ná alles wat sy deurgegaan het. Sy was vasgevang vir drie ure. Dis hoekom ek vra dat mense ons privaatheid respekteer deur wat hulle versprei en praat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article