Nog ’n vermeende voortvlugtige van die gereg, Marén de Klerk, is verlede week in die Paarl vasgetrek.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

In nog ’n voorval van ’n vermeende vlugteling van die gereg is ’n Namibiese prokureur Donderdag (1 Junie) in die Paarl deur die Valke en polisie in hegtenis geneem.

Volgens die Valke is Marén de Klerk (55) vandeesweek in hegtenis geneem ná ’n gesamentlike operasie deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad en Interpol.

De Klerk het glo in 2020 na Suid-Afrika gevlug nadat hy deur Namibië se teenkorrupsie-kommissie ondervra is oor sy betrokkenheid by Namibië se sogenaamde Fishrot-skandaal.

Marén de Klerk (55) het Vrydag in die hof verskyn. Die Namibiese owerhede het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik nadat hy nie na Namibië teruggekeer het nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het ’n versoek om De Klerk se uitlewering in Oktober 2021 van die Namibiese regering ontvang.

Geld van die Nasionale Visserykorporasie van Namibië (Fishcor) is glo in die trustrekening van De Klerk se maatskappy, De Klerk, Horn en Coetzee Geïnk., inbetaal en verduister. Nagenoeg N$50 miljoen is na bewering in die trustrekening inbetaal.

Die Valke het in ’n verklaring gesê die saak is uitgestel en De Klerk sal vandag weer in die hof verskyn op aanklagte van rampokkery, bedrog, korrupsie en geldwassery.

Dit hou volgens kol. Katlego Mogale verband met die lasbrief wat in Namibië vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Die Paarl-polisie het in Februarie vanjaar van De Klerk bewus geword nadat hy ’n klagte van bedrog by die polisie teen ’n voormalige prokureur van die Paarl, Ben van Heerden, ingedien het. De Klerk het gesê dat hy R3 miljoen in ’n trustrekening inbetaal het, wat deur Van Heerden bestuur is. Hy was nie bewus daarvan dat Van Heerden van die prokureursrol geskrap is nie.

Paarl Post het twee weke gelede breedvoerig verslag gedoen oor Van Heerden se bedrieglike bedrywighede.

Van Heerden kon hom ook nie die R3 miljoen terugbetaal nie. ’n Bron het gesê nadat speurders by die Paarl-polisie die saak teen Van Heerden ondersoek het, het hulle agtergekom daar is ’n internasionale lasbrief vir De Klerk se inhegtenisneming, waarna hulle die dossier na die Valke vir verdere ondersoek aangestuur het.

De Klerk is die tweede internasionale voortvlugtige wat in weke in die Paarl in hegtenis geneem is. Ukiliho Kayishema Fulgence, wat na bewering die moord op ongeveer 2 000 Tutsi-vlugtelinge tydens die volksmoord in Rwanda in 1994 georkestreer het, is vroeër in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article