Cape Nature sê hy ondersoek bewerings op sosiale media oor ’n rondloper-bobbejaan wat glo Maandag (5 Februarie) naby die Bergendal-kompleks in Klein Parys in die Paarl gewaar is.
Dit is in hierdie stadium nie duidelik of dit dieselfde bobbejaan is wat op twee vorige geleenthede rondgedwaal en deur amptenare gevang is nie.
Petro van Rhyn, ’n woordvoerder by Cape Nature, het aan Paarl Post gesê hulle kon teen Woensdagoggend (7 Februarie) nog nie die bobbejaan opspoor nie.
Cape Nature is Maandag deur die Drakenstein-munisipaliteit oor die bobbejaan verwittig nadat inwoners foto’s op sosiale media gedeel het waar dié kees by ’n bouperseel by die kompleks naby die N1-hoofweg rondloop.
“Ons kan in die stadium nie sê of dit dieselfde bobbejaan is wat onlangs in Amstelhof en in die dorp verdoof en gevang is nie. Ons amptenare kon hom tot dusver nog nie gewaar en vang nie.”
Paarl Post het vroeër berig oor ’n mannetjie-bobbejaan wat deur Cape Nature se amptenare en ’n veearts by die munisipaliteit se hoofkantoor in die Paarl en toe ’n week later in Amstelhof verdoof en gevang is.
Hy is toe in die Du Toitskloof-berge vrygelaat.
Van Rhyn het Woensdag gesê die mannetjiesbobbejaan is by albei geleenthede “op sy eie” in die berg vrygelaat en nie saam met ’n bestaande trop nie.
“Die bobbejaantroppe by Du Toitskloof word nie deur Cape Nature gemonitor nie aangesien hierdie wilde troppe is.
“Indien Maandag se bobbejaan dieselfde een is wat al twee keer gevang is, gaan ons verskeie redes oorweeg vir hoekom hy terugkeer.
“Gewoonlik sluit bobbejane in die natuur uit vrye wil by ander troppe aan.”
Jenni Trethowan, die stigter van die organisasie Baboon Matters, sê indien dit dieselfde bobbejaan is, is hy dalk op soek na ’n nuwe trop.
Sy sê bobbejane beweeg gewoonlik in groepe.
“Hierdie jong mannetjie het dalk iewers maklik kos gekry en nou beweeg hy gereeld deur hierdie woonbuurte om weer daardie bederfie te bekom,” sê sy.
Ander dierekenners is een met Trethowan en sê indien die bobbejaan nie binnekort by ’n ander trop herintegreer word nie, kan hy ’n gevaar vir homself begin raak.
“Hy is duidelik bang en verward, en dit is iets wat mense moet verstaan, sou hulle hom teekom.
“Moenie op hom skree of hom met klippe bestook nie,” het ’n diereregteaktivis vandeesweek aan Paarl Post gesê.





