Nóg ‘n motorfietsryer het die dood ter nouernood vrygespring nadat hy die afgelope Sondag (1 Junie) in die Franschhoekpas deur die lug geslinger is voordat hy in die kloof beland het en gered moes word.
Paarl Post het verlede week berig oor twee afsonderlike voorvalle in dié pas waarin drie motorfietsryers in ‘n ernstige toestand gelaat is.
Die Franschhoek-polisie het hierdie voorvalle bevestig.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-paramedikus, wat die afgelope Sondag op die jongste ongelukstoneel was, het die motorfietsongeluk omstreeks 09:40 naby Jan Joubert’s Gat gebeur – dieselfde plek as dié van verlede week. Dit was ook ‘n superfiets.
Volgens Maske is dit moeilik om te bespiegel oor wat die ongeluk veroorsaak het, maar hy sê die motorfietsryer het vermoedelik vir ‘n aankomende motor uitgeswaai.
ER24 asook die metro-ambulansdienste en Franschhoek First Responders, ‘n vrywilliger-organisasie wat in mediese noodgevalle hulp verleen, was kort ná die voorval op die toneel.
Volgens Maske is ‘n helikopter om hulp gevra om die motorfietsryer uit die kloof op te hys, maar geen helikopter was weens ‘n ander noodgeval op Tafelberg beskikbaar nie.
Maske en sy span is toe genoop om tussen 30 en 40 meter met toue in die kloof af te seil, waar hulle die beseerde op ‘n draagbaar vasgemaak en teen die krans opgehys het.
Die motorfietsryer is vir verdere behandeling per ambulans na die Paarl-hospitaal geneem.
• Volgens Jandré Bakker, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, is opknapping aan die Franschhoekpas steeds aan die gang. Dit sal na verwagting tot Februarie 2027 duur.





