Bruce Thompson, ’n Australiese burger, het vandeesweek weer in die Paarl-streekhof verskyn op aanklag van moord op sy vrou, Magret Kendle, ’n Britse burger, byna nege jaar gelede.

Kendle is in Junie 2013 in hul huis in Wellington dood.

Thompson het self die plaaslike polisie gebel om die voorval aan te meld en destyds beweer sy vrou het selfdood gepleeg deur ’n oordosis slaappille te drink.

Volgens die polisie is slaappille langs haar bed gekry. Die lykskouing deur die staatspatoloog het egter geen teken van slaappille in Kendle se bloed gekry nie, maar haar nekwerwels was erg gekneus.

Die beskuldigde se huis is deur Wellingtonse speurders deursoek en bloedspatsels is ook gekry, waarvan die bloed volgens forensiese toetse aan die oorledene behoort het.

Thompson is ’n paar dae ná Kendle se dood in hegtenis geneem.

Hy is tans uit op borgtog van R10 000.

Die bekende strafsake-prokureur William Booth het ’n paar keer vir die beskuldigde verskyn, maar het hom onttrek omdat die beskuldigde hom nie meer kon bekostig nie.

Die saak is Maandag weer uitgestel tot Vrydag (11 Februarie) vir die afhandeling van die hoofgetuienis van die patoloog.

Die logistiek van die saak is besonder ingewikkeld, vandaar die vertragings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article