Nog ’n noodlottige skietvoorval waarby ’n veiligheidsbeampte verbonde aan die Drakenstein-munisipaliteit betrokke was, het onlangs by die Wellington-stortingsterrein plaasgevind.
Dit is die tweede noodlottige skietvoorval by die Wellington-stortingsterrein binne ses maande waarvan die DM se amptelike veiligheidsmaatskappy weens vermeende moord deur die polisie ondersoek word.
Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n klag van moord word ondersoek nadat iemand met ’n skietwond dood aangetref is.
“Die omstandighede word nog ondersoek. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie. Die oorledene is ’n 39-jarige man,” bevestig Barkhuizen.
Die nagevolge van die onlangse voorval het daartoe gelei dat polisieondersoeke dié keer na GAP Management Security kyk. Die maatskappy is onlangs deur die DM as amptelike veiligheidsdiens aangestel nadat ’n herrie ontstaan het om die vorige veiligheidsmaatskappy, Bokwe Security, waarvoor die munisipaliteit verlede jaar ’n omstrede tender uitgereik het, se dienste te beëindig.
Dit is ook juis Bokwe wat betrokke was by die eerste noodlottige skietvoorval, wat op 25 Desember 2021 ook by Wellingtons-stortingsterrein plaasgevind het.
Tydens die voorval is ’n ashoop-krapper deur ’n beampte van Bokwe doodgeskiet. Hierdie voorval het Bokwe Security Services onder die vergrootglas geplaas, en sy diens is intussen by sommige DM-persele deur die nuwe tendertoekenning vervang.
“Die munisipaliteit het Bokwe’s Security Services se dienste by sekere van ons persele op 30 Maart 2022 beëindig omdat hulle nie hul tendervoorwaardes nagekom het nie,” het Gerald Esau, DM se uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste, bevestig.
Hy sê die voorval wat op 1 April plaasgevind het, word tans deur Wellington-polisie ondersoek, “en alle inligting rakende dié voorval is daarom sub judice.”
Esau sê die munisipaliteit het in pas met die voorgeskrewe munisipale verkrygingsbeleid en -voorskrifte ’n tender vir veiligheidsdienste op 25 Februarie 2021 adverteer.
“Die sluitingsdatum was 29 Maart 2021.
“Die tender vir die Wellington-stortingsterrein-gedeelte is aan GAP Management Security toegeken.”
Die DM se tendertoekenningsproses vir veiligheidsdienste het die afgelope jaar groot omstredenheid vanaf plaaslike veiligheidsmaatskappye gelok.
Paarl Post het in Februarie vroeër vanjaar oor verskeie voorvalle berig wat tot ondersoeke rakende Bokwe Security Services se versorging van hul waghonde gelei het. Dit het gevolg nadat talle klagtes en bewerings van nalatige sorg en omstandighede op verskeie terreine waar dié honde wag gehou het, aangemeld is.
Esau sê dié keer bestaan daar geen omstredenheid rakende die toekenning van die tender nie. “Die munisipaliteit het die wettige verkrygingsprosesse getrou gevolg.
“Verskeie plaaslike veiligheidsmaatskappye het aan die tenderproses deelgeneem, maar hul aanbiedinge was onsuksesvol omdat hulle nie hul dokumente reg voltooi het nie en nie die nodige ondersteunende inligting ingedien het nie.”
Maar die veiligheidsmaatskappy waaroor Esau kommentaar gelewer het, het gesê hulle ken die stelsel al jare lank en kan nie verstaan dat die munisipaliteit nou kies om ’n maatskappy van buite die gebied te kies om hier dienste te lewer nie “aangesien dit die plaaslike werksmag te na kom”.




