Die Paarl Post het in 1957 breedvoerig oor die storms in die winter verslag gedoen.Foto:

Credit: SYSTEM

Die Drakenstein-vallei steier behoorlik ná die verwoestende reënstorms die afgelope week.

Volgens geskiedkundige rekords was daar wel jare dat die reënval nog erger was en groot skade in die vallei aangerig is.

Volgens amptelike reënvalsyfers vir die afgelope 99 jaar, sedert 1924, was die jaar 1957 die jaar dat die meeste reën in die Paarl geval het – ’n volle 1 806 mm.

En as bewys daarvan het verskeie artikels in Paarl Post van 1957 verskyn, wat ’n prentjie van die swaar reën geskets het.

Op 7 Mei 1957 is berig: “Straat was 18 duim (ongeveer 457 cm) onder hael, water”.

Altesaam 90 mm reën het op een dag uitgesak, met swaar hael en sneeu op die berge.

Huisbewoners moes sakke voor hul deure pak om die water te probeer keer en strate in die Paarlse middedorp was onder water.

Op 4 Junie is verder oor storms berig: “STORM LAAT BOME VAL – UITSTALVENSTER STUKKEND”.

Hierdie storm is gevolg deur sewe dae se aanhoudende reën, asook ’n wolkbreuk tussendeur.

Die Wemmershoekdam, wat toe sopas gebou is, het reeds 100 voet water bevat.

Op 21 Junie is verder berig baie meer reën het tot dié dag teenoor dieselfde dag in 1956 geval.

Die reënval in die Paarl was toe al 870 mm vir die jaar in vergelyking met 481 mm die vorige jaar.

Op 16 Julie is verslag gedoen oor ’n hele gebou wat op die plaas La Bori in Suider-Paarl weens swaar reën ineengesak het.

Kouefronte het die Drakenstein-vallei steeds met swaar reën en sneeu getref, wat tot laat in daardie jaar aangehou het.

Selfs in Oktober is 268 mm reën destyds in die Paarl aangeteken.. Volgens data van die afgelope 99 jaar se reënval in die Paarl is die gemiddelde reënval in die dorp 891,85 mm per jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article