Die Universiteit van die Lewe is moeiliker en baie meer onsimpatiek in die aanbieding van lesings en verrassingstoetse as wat die suurste professor of mees egoïstiese dosent van ’n tradisionele universiteit ooit kan wees. Dát dosente soms lus kry om ’n student ’n wakkerwordklap te gee, sou dit aanvaarbare praktyk wees, is beslis so, maar in die onmeetbaar groot lesingsaal van die leerskool van die lewe is dit soort van free for all. In hierdie lewe is niemand gevrywaar van onverdiende dwarsklappe nie en die wat rêrig ’n paar goeies verdien, kom oënskynlik skotvry.
By dié groot skool is ons almal lewenslange ingeskrewe studente van die oomblik van ons geboorte. Klink amper soos lewenslange tronkstraf, wat lankal nie meer lewenslank is in Suid-Afrika nie. Die lewenslank is gelukkig nie straf, soos vir die wat dit lekker gevind het om verkeerd te doen nie en dus hul lewe slyt tussen ’n spul lae koerakters, soos oom Ouman skurke noem.
Nie eens die van ons wat in die mees bevoorregte omstandighede gebore word, kry vooruitskouing van hoedat ons lewe gaan lyk nie. Die universiteit verskaf geen vooraf inligting van kursusse en geskeduleerde toetse en tyd en plek en waaroor dit sal wees nie. Geen handboeke, hulpbronne of nagevorste vakinligting is beskikbaar nie. Eksamendatums word ook nie gegee nie. Ons is aldag, heeldag lank aan’t leer en is eers afgestudeer aan die einde van ons lewe; maak nie saak hoe en wanneer daai oomblik is nie. Ook nie?die datum daarvoor nie.
Inskrywing by dié groot een is heel maklik. Geen aansoekvorms waarop jy jou prestasies invul en aan spesifieke kriteria moet voldoen om hopelik in aanmerking te kom vir plasing by jou voorkeur-universiteit en graadkursus en verblyf nie. Geen hoop en bid en duimvashou sodat jy tog net nie weggewys word weens verkeerde kleur, taal of kultuur nie, omdat die tipologie van die instelling reg moet vertoon nie.
Ooreenkomste is daar ook tussen die twee instellings. Dit maak die speelveld effe gelyker tussen die twee. By universiteite wêreldwyd is ultra slimmes en beeldskones en talentvolles. Daar is studente met geld en goed in oorvloed en besonder gelukkiges het daarmee saam liefdevolle ouerhuise. Netso is daar die wat in alles die teenoorgestelde van die genoemde is: Die fisiek gestremdes en die wat in byna onmenslike ekonomiese en sosiale omstandighede intellektueel gelykop kompeteer met die wat alles in hul voordeel het. Dus: Of jy ingeskryf is by Cambridge of KwaZulu/Natal en vir die heel moeilikste kursus op aarde, maak nie saak nie. Jy ontsnap nie die gereelde lesings in die ongenaakbare lesingsaal van die groot skool nie.
Of jy in ’n ultraluukse woning of villa op die mooiste plek op aarde bly of in ’n huis in ’n middelklasbuurt, ’n sinkhok in ’n plakkerskamp of plaashuis in die Boesmanland, selfs in die mangat in my dorp, jy is aan’t leer en word gekonfronteer met jou sterflikheid en doen jy wat jy doen om (suksesvol) te bly lewe.
In die moeilike lewe swoeg en sweet mense om volgens elkeen se idee van sukses dit so vinnig moontlik te bereik. Pynloos nooit. Onreg baie. Eensaam tye en donker môres dikwels. Armoede en gebrek vir baie en dikwels uitsigloos ook. Nie eens die bekende Bybelfigure soos die wyse Salomo, beeldskone en slim Ester of mooi en kreatiewe Rut se lewe was van altyd ’n vreugdetog en suksesvol nie. Langenhoven het gesê: “Om dood te gaan, is geen kuns nie: die slegste kry dit reg. Om te lewe is ’n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie.”
Vir my lyk dit ons het beheer oor die rigting van ons lewe en meestal oor die goed en sleg daarvan. Vereenvoudig is dit so: Die groot Universiteit het slegs twee studierigtings: Lig en Duisternis. Twee leerstoele en dus twee professorate. Elkeen het ’n span kundige en vlytige dosente wat verantwoordelik is vir die lesings van ons gekose lewenskursus. Van hulle sal mense wees wat jou pad kruis, ander sal jy nooit ontmoet nie, maar op onverwagte plekke en tye bewus wees van ’n rigtingwyser.
Die professore sal jy nooit sien nie, maar bewus wees van die teenwoordigheid van die een onder wie jy gekies het om te studeer. Tydsaam groei jy in kennis en wysheid en kyk na die wêreld met ander oë en op onverwagte plekke en tye kry jy antwoorde op die eeue oue hoekoms en waaroms van die lewe. Vrae oor God, lyding, onreg en die doel van die lewe, die Bybel, hemel en hel en die lewe hierna se antwoorde kom met tyd. Onbeantwoorde vrae pla nie meer nie. Rus en vrede is elke dag deel van jou bestaan en begenadigdes getuig altyd voor die laaste oomblik dat die lewe goed en mooi was en die moeite werd. Grotes in die wêreldgeskiedenis het dit ook gesê.




