“Tydens die eerste golf het julle ons toegejuig.
Tydens die tweede golf het julle met ons gesimpatiseer.
Tydens die derde golf het julle ons geïgnoreer.
Tydens die vierde golf het ons opgegee.
Ons het geveg teen ‘n siekte waarin die helfte van die wêreld nie glo nie. Ons het geveg teen die wanhoop om julle stadig te sien sterf, hulpeloos om in te gryp. Ons het geveg teen die golwe van disinformasie, die onkunde, die arrogansie. Ons het vir julle geveg. Ons het vir ons gesinne geveg. Ons het vir onsself geveg. Ons het nie meer veel veglus oor nie.
Ons is gedaan en het julle hulp nodig. Laat julle inent. Keer die vierde golf.”
Hierdie hartstogtelike pleidooi deur ‘n frontlinie-dokter eggo die stemme van personeel in die Covid19-hoësorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal en vorm die hartklop van ‘n inentingsveldtog van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). ‘n Beroep word daarmee op alle Suid-Afrikaners, en veral die gesondheidsorggemeenskap, gedoen om deel te word van die stryd teen Covid-19 deur hulle te laat inent en familie, vriende en kollegas aan te moedig om dieselfde te doen.
Met die wekroep ‘Niemand is veilig tensy álmal veilig is nie’, wissel die koor van FGGW-stemme ter ondersteuning van die veldtog van die leiers- tot die studentekorps.
Dr. Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, skets die lot van gesondheidswerkers sedert die begin van die pandemie en die noodsaak om hulle te ondersteun aangrypend: “Hulle het talle van hul kollegas verloor, soveel meer is geraak toe hulle self siek geword en talle het geestelik gely.
Hulle werk onvermoeid om ons gesinne, vriende, kollegas en bure te help red.”
In ‘n pleidooi vir dringende optrede om die las op hospitale te verlig, wys dr. Paul Ciapparelli, Direkteur van Kliniese Dienste by die Tygerberg-hospitaal, op die bewese doeltreffendheid van Covid-entstowwe om ernstige siekte, hospitalisasie en dus die noodsaak van intensiewe sorg te voorkom.
“Dit help op sy beurt regtig om die Covid-las te verlig en stel ons in staat om meer sorg aan ons ander pasiënte – al die nie-Covid-gevalle – te bied.
“Ek pleit by al ons personeel, asook die algemene publiek, om hulle asseblief sonder versuim te laat inent. Dis verreweg ons beste wapen teen die pandemie.”
Die FGGW-koor van stemme word aangevoer deur die Dekaan, prof Jimmy Volmink: “Ons doen ‘n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om al die bewysgebaseerde maatreëls om die oordrag van die Covid-19-virus te verminder en die risiko van ernstige siekte, hospitalisasie en die dood te verminder, heelhartig te omarm. Covid-19-inenting bied ons die beste hoop om die huidige bedreiging vir ons lewe en bestaansmiddele te bowe te kom. Doen asseblief die verantwoordelike ding en kry die inenting!”
Prof. Soraya Seedat, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Psigiatrie, doen ‘n beroep op kollegas en studente in die gesondheidsorggemeenskap om magte saam te snoer vir entstofsolidariteit.
“Tesame is ons sterker katalisators om die inentingsmomentum te verhoog en inenting in ons werkruimtes en daarbuite te ‘normaliseer’. As ‘n gesondheidswetenskappefakulteit behoort ons aan die voorpunt te wees om inentingskoerse te verhoog op die kampus, onder personeel en pasiënte by die hospitale en klinieke wat ons bedien, asook in ons breër gemeenskap.”
Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die FGGW se Afdeling Mediese Virologie, besweer vrese oor die veiligheid en doeltreffendheid van die Covid-19-entstowwe.
“Mense is skepties oor die spoed waarteen die Covid-19-entstof ontwikkel is, maar dit was gebaseer op dekades van intensiewe wetenskaplike navorsing om entstowwe vir ander siektes te ontwikkel.
Sedert die ontwikkeling daarvan is honderde miljoene Covid-19-entstofdosisse wêreldwyd toegedien en het ‘n uitstekende veiligheidsprofiel en baie goeie beskerming teen ernstige en moontlik fatale siekte getoon.”
Hy voeg by dat hy self dosyne mense ken wat ernstige Covid-19 gehad het en minstens 20 wat daaraan gesterf het – “en honderde wat die entstof ontvang het en net ‘n dag of twee effens sleg gevoel het”.
“Doen dit (ten eerste) vir jouself, maar ook vir jou gesin, vriende, kollegas en ander. Jy betreur waarskynlik die effek van die pandemie op die ekonomie, op skoolgaande kinders en veel meer (soos jy behoort). Die sleutel vir die gemeenskap om na (amper) normaal terug te keer, is in jou eie hande:
Jy en al die res moet julle laat inent. Geen verskonings meer nie – gaan daarvoor en gaan nou!”
Dr. Jantjie Taljaard, hoof van die FGGW se Afdeling Infeksiesiektes, simpatiseer met die publiek se onsekerheid oor die entstof – veral weens die stortvloed konflikterende inligting wat die ronde doen – maar pleit by mense om die groter prentjie te sien.
“Ons beleef nou 18 maande lank ‘n pandemie wat ‘n impak op elke aspek van ons gemeenskap het en nie net ons gesondheid raak nie, maar huishoudings en ekonomieë vernietig en niks en niemand ontsien nie. En die einde is nog nie in sig nie…”
Hy wys op twee bewese strategieë om die impak te versag: die eerste is nie-farmakologiese maatreëls soos inperkings; en die tweede is inenting. “Die eerste is doeltreffend, maar nie volhoubaar nie en het ‘n diepgaande impak op bestaansmiddele, industrieë, geestesgesondheid en onderwys. Aan die ander kant is dit nou bewys dat entstowwe veilig en doeltreffend is om hospitalisasie en sterftes weens Covid19 te voorkom en dat dit die kanse om Covid-19 te kry aansienlik verminder.
“Dit is geensins die allerantwoord nie, maar is wel ‘n reuse-deurbraak om die talle euwels van die pandemie aan te pak. As jy die bedreiging van die pandemie wil help beëindig, laat jou inent en help jou gesin en vriende om dit ook te doen.”
Prof. Keymanthri Moodley, mediese etikus en Direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, plaas die kollig op individuele en maatskaplike verantwoordelikheid tydens die pandemie.
“Ons is dit aan onsself, ons gesinne, ons kollegas en ons pasiënte verskuldig om ons te laat inent, maskers te dra en veilig te wees. ‘n Openbare gesondheidsetiekbenadering gegrond op kollektiewe verantwoordelikheid en solidariteit is van deurslaggewende belang om lewens te red, die ekonomie te laat herleef en die pandemie te beëindig.”
Prof. Taryn Young en Portia Jordan, kampvegters vir openbare gesondheidsolidariteit, stem saam dat Suid-Afrikaners ‘n maatskaplike verantwoordelikheid het om seker te maak geen leed word aan ander aangerig nie.
“Ons word almal deur Covid-19 geraak. Niemand is ontsien nie en ons kan deur ons kollektiewe optrede ‘n verskil maak,” sê Young, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Globale Gesondheid. “Ons word veilig vir masels, Duitse masels, polio, pampoentjies en talle ander siektes ingeënt en nou moet ons verenig en dit weer doen om die impak van Covid-19 te verminder.”
Sy word ondersteun deur Jordan, hoof van die FGGW se Departement Verpleeg- en Verloskunde: “Ons moet inenting aktief bevorder en gemeenskappe, familielede en kollegas aanmoedig om hulle te laat inent. Doen die regte ding: Laat jou vandag inent en deel net die waarheid oor die veiligheid en voordele van inenting.”
As verteenwoordiger van die Tygerberg-studentegemeenskap pleit Jessica Davies, ? vierdejaarstudent, by haar mede-studente om ingeënt te word, omdat almal van hulle op die een of ander manier met pasiënte interaksie het of in nabye kontak kom met ander studente wat sulke interaksie het.
“As ons verantwoordelike gesondheidsorgpraktisyns wil wees en die gedrag wil toon wat ons by ons pasiënte, vriende en gesinne wil sien, moet ons voor in die ry staan om ingeënt word. Om seker te maak alle pasiënte kry die beste sorg en die stelsel word nie oorlaai nie, het ons ingeënte gesondheidsorgwerkers én ingeënte pasiënte nodig.”
In ‘n laaste, kragtige boodskap, verwoord Dr. Fish die hunkering na ‘n terugkeer tot nabye menslike kontak en die noodsaak van inenting om dit te verwesenlik.
“Ons as gesondheidsorgpraktisyns ondersteun inenting al eeue lank. Ons is almal ingeënt, ons kinders word almal ingeënt en ons weet entstowwe werk. Ek moedig almal aan – gesondheidsorgwerkers, ons gesinne, ons gemeenskappe en godsdienstige leiers – om saam te staan oor hierdie saak. Ons land het dit nodig.
“Ek verlang na die dae wanneer ons mekaar ‘n drukkie kan gee, en dit gaan net gebeur as ons almal ingeënt is.”





