Na aanleiding van u artikel aangaande munisipale kostes wil ek graag die volgende kommentaar lewer:

Ons hoef nie plekke so ver as Overstrand te soek nie. Ek het tot onlangs nog eiendom in Stellenbosch besit. Daar is die eiendomsbelasting per rand se munisipale waardasie laer as in ons “city of excellence”.

Die feit dat mnr. Brown die skrywer persoonlik takel, laat hom soos ’n politikus lyk – hy speel die man, nie die bal nie.

Aangesien julle so breedvoerig uitbrei oor die skrywer se eensydige analise, hoekom kies julle om nie al die feite op die tafel te sit nie? Nee, dit gaan jou seermaak, daarom nie.

Die 0%-eiendomsbelasting is so ver van die waarheid verwyder. Weer eens is dié wat kan betaal, die hardste geslaan. Ons eiendomswaardasie is verlede jaar die eerste keer in vier jaar aangepas. Verskaf eerder die persentasie waarmee ons eiendomsbelasting gemiddeld aangepas is. Dit is ’n meer getroue syfer.

Dan was Wellington, in hul onafhanklikheidsjare, se elektriese tarief laer as dié van die Paarl. Ons moes destyds betaal vir ons meters terwyl Paarl hul meters gratis gekry het, maar meer per eenheid as ons betaal het.

Toe ons ’n “city of excellence” word, is gesê Wellington se tariewe is laer as die van Paarl en moes aangepas word. Die meters het toe by die venster uitgevlieg en almal is onder dieselfde kam geskeer.


Marius Mostert,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article